Maak Binder gerus die volgende 007

Brad Binder vier sy oorwinning. Foto: GEPA Pictures/Daniel Goetzhaber.

No Time to Die is die jongste James Bond-fliek met Daniel Craig in die hoofrol, maar gelukkig hoef die vervaardigers nie lank na iemand te soek om dié Britse akteur se skoene vol te staan nie – Brad Binder sal dit waarskynlik met ’n glimlag kan doen.

Die 26-jarige Suid-Afrikaner het gister op skouspelagtige wyse die Oostenrykse MotoGP op die Red Bull Ring-renbaan gewen en hy het vriend en vyand met sy waagmoed beïndruk.

Met enkele rondes oor in die wedren het dit begin reën en soos wat die ander jaers besluit het om die kuipe vir meer geskikte bande te besoek, het Binder besluit dat hy op die baan sal bly.

Nie net moes hy teen wind en reën baklei nie, maar sy remme het ook later die gees gegee.

“Dit was nogal ’n ingewikkelde storie om bo-op die motorfiets te bly en met twee rondes oor het my remme ook hul greepkrag verloor,” het Binder gesê.

Die Ducati-jaer Francesco Bagnaia, wat uiteindelik tweede geëindig het, het sy bewondering vir die Suid-Afrikaner uitgespreek.

“Brad het vandag iets merkwaardigs gedoen en om sonder die geskikte bande in hierdie omstandighede staande te bly is ’n merkwaardige prestasie,” het die Italianer gesê.

Binder het later die wedren met ’n ysskaats-sessie vergelyk.

“Ek is baie tevrede met die vertoning; veral hier op Red Bull en KTM se tuisgrond. Dit is ook die naaste wat ek aan ’n tuiswedren sal kom en ek is trots op die span.”

Komkommerkoel onder druk, dapper en waagmoedig: Brad Binder beskik ongetwyfeld oor die nodige 007-karaktereienskappe.

  • Binder is nou sesde op die MotoGP-punteleer met 98 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

My2Sent ·

So trots op Brad…dit was ongelooflik. Nie eers die kommentators kon glo wat hul sien gebeur nie. Ware waagmoed, soos ons SA’ners ken.

koos10 ·

Net laas week hek ‘n komentator op hierdie forum gekla dat hy nie goed genoeg is nie. Ek hoop dat die persoon nou sy woorde sluk. Dit verg bitter baie moed om te weet dat jy op verkeerde bande, en opstelling van die motorfiets is ook verkeerd en nog steeds aan gaan.
By tye het sy agterwiel gedreig om sy voorwiel verby te steek, maar hy het bitter goed kop gehou.
Nie eers Mark kon met nat bande op die saal bly nie, en Brad doen dit met droë bande!!
Bitter goed gedoen, Brad.
Ek het net een vraag. Hoekom word net die helfde van ons volkslied gespeel???

Dan ook sommer vir De Vries geluk wens met sy Formule E kampioenskap.
MM kan julle maar nie ook so bietjie oor die Formule E berig nie?

Uitmykoker ·

Onder die puriste sal daar nog lank gepraat word van herdie merkwaardige oorwinning deur Brad Binder. Dit het ongelooflike toegewydheid, mannemoed en talent geverg. Hierdie oorwinning was ook n goeie toonvenster vir MotoGP gewees deurdat dit weereens daardie unieke wisselwerking tussen mens en masjien geillustreer het wat eie aan hierdie sportsoort is. Bravo Brad!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.