Max en Sergio sorg vir renbaansepie

Max Verstappen en Sergio Perez. Foto: Twitter.

Vergeet maar vir eers van George Russell se eerste wedrensege; dit is veel eerder die twee Red Bull-renjaers wat nou die F1-hoofopskrifte haal.

Max Verstappen het laat in die Brasiliaanse Grand Prix geweier dat Sergio Perez verby hom glip sodat die Mexikaanse renjaer meer punte kon verdien.

Perez is juis in ʼn kwaai tweestryd met Ferrari se Charles Leclerc op die jaerspunteleer gewikkel en ʼn bietjie meer punte sou sy veldtog om die seisoen in die tweede plek af te sluit ʼn welkome hupstoot gegee het.

Verstappen se boodskap oor die spanradio was egter duideliker as Gandalf se bulderende stem in die Lord of the Rings-rolprente: Jy sal nie hier verbygaan nie!

Die wêreldkampioen het terselfdertyd aangevoer dat daar ʼn rede vir sy optrede was, terwyl Perez natuurlik die hoenders in is.

Volgens Jenson Button klink dit nie goed as Verstappen só praat nie. Hy het immers ʼn gulde geleentheid deur sy vingers laat glip om sy beeld onder alle F1-ondersteuners blink te poets.

“As ʼn mens nie die rede vir Max se besluit hoor nie, is jou eerste gevolgtrekking natuurlik dat hy net aan sy eie belange dink en nie dié van die span nie,” het die voormalige Britse wêreldkampioen gesê.

“Dink net – die wêreldkampioen wat vir sy spanmaat opsy staan sodat hy ʼn beter kans het om tweede op die punteleer te eindig. Het Red Bull dinge vooraf bespreek soos wat Max aangevoer het? Indien wel, waarom het hulle hom dan gevra om dit te doen?”

Christian Horner, Red Bull-spanbaas, het egter ná die drama in São Paulo gesê dat alles in die stryd gewerp sal word om Perez se plek op die punteleer te verseker.

Verstappen het ook gesê dat hy in sy spanmaat se hoek sal wees.

“Abu Dhabi is die volgende avontuur wat op ons wag en ons sal natuurlik probeer om die wedren te wen, maar as daar ʼn geleentheid is om vir Sergio te help, sal ek dit doen.”

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 429 punte
  2. Charles Leclerc 290 punte
  3. Sergio Perez 290 punte
  4. George Russell 265 punte
  5. Lewis Hamilton 240 punte
  6. Carlos Sainz 234 punte
  7. Lando Norris 113 punte
  8. Esteban Ocon 86 punte
  9. Fernando Alonso 81 punte
  10. Valtteri Bottas 49 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull 719 punte
  2. Ferrari 524 punte
  3. Mercedes 505 punte
  4. Alpine 167 punte
  5. McLaren 148 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Fran ·

Die mens is nie gemaak om verheerlik te word nie. Net die Here. Dit is hoekom mense tot ‘n val kom as hulle te veel daarvan kry. Pasop Max. Mooi trap.

Vonkprop ·

Sies Max. Dit was nou baie lelik van jou gewees. Jy is klaar die kampioen, jy sou niks verloor het nie en kyk hoeveel keer het Sergio jou al gehelp.

piet ·

Presies en dit is ook nie asof hy in ‘n posisie was om die wedren te wen nie so hy het niks gehad om te verloor nie. Baie swak, nie ‘n spanman nie.

MakersMark ·

Max is die beste waarvoor moet hy terugstaan vir ander ?

George ·

vir sy span. Hy kon dat hul 1ste en tweede le. Maar hy’s net so effens selfsugtig.

Vonkprop ·

Dit gaan nie oor terugstaan nie. Dit gaan oor gee en neem. Sergio het baie gegee sodat Max twee keer kampioen kan wees. Max het die ideale geleentheid gehad om die meeste F1 aanhangers aan sy kant te kry as hy soos ‘n ware spanspeler vir Sergio laat verbygaan het om te sorg dat hy tweede op die punteleer eindig. Dit sou selfs die hardste anti-Max ondersteuner bietjie laat dink het. Nou het Max die teenoorgestelde reggekry om sy eie ondersteuners in die steek te laat. Ek is een van hulle.

piet ·

Die ou het baie vinnig ‘n grootkop gekry. Dink hy is groter as die span vir wie hy jaag. Mercedes gaan hulle in elk geval van nou af pakslae gee.

MakersMark ·

Grootste kop behoort aan die sir. Merc sal van nou af nog verder agter bly RB se nuwe enjins gaan onstuitbaar wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.