Max jaag weer kampioenskapglorie

Max Verstappen. Foto: Twitter.

Die nuwe F1-seisoen begin oor net meer as ʼn maand in Bahrein en oudergewoonte sal Max Verstappen weer eens sy bes doen om met die uiteindelike kampioenskaptitel weg te jaag.

Die Red Bull-renjaer sal poog om slegs die vyfde renjaer in die geskiedenis van die sport te word om drie agtereenvolgende titels in te oes.

“Drie is beslis my gunstelingnommer en ek sal ongetwyfeld my heel beste op die renbaan gee,” het die jong Nederlander in ʼn onderhoud met Sky Sports gesê.

Hy het egter erken dat hy nie weet hoe sy Red Bull-vuurwa met die motors van die ander renjaers sal vergelyk nie.

“Tans weet ek nie of ons goed genoeg sal wees nie, maar die hele span het vertroue in mekaar, ons is oorgehaal vir sukses en ons werk baie hard om op verlede jaar se prestasie voort te bou.”

Verstappen het in 2022 die kampioenskaptitel op ʼn drafstap gewen, terwyl Red Bull ook op die vervaardigerspunteleer koning gekraai het.

“Almal het baie hard in die af seisoen gewerk en ek weet wanneer ek weer agter die stuur klim, sal ek moet uithaal en wys.”

Volgens die verdedigende wêreldkampioen is Lewis Hamilton steeds ʼn gevaar in sy Mercedes, maar jonger renjaers soos George Russell (Mercedes), Charles Leclerc (Ferrari) en Lando Norris (McLaren) kan ook moeilike teenstanders wees.

“Lewis is een van die beste renjaers ooit en as hy oor ʼn sterker motor beskik, kan hy beslis weer in die binnebaan van die titelresies wees. Maar dieselfde kan ook van die ander gesê word: As hul motor met die beste kan saamgesels, het hulle oorgenoeg talent om gereeld op die podium te staan.”

Hy het egter ook ʼn waarskuwing gerig – wanneer jou motor oor ʼn kragtige en betroubare enjin beskik, is jy onder enorme druk om te presteer.

“Jy kan dan nie bekostig om enige groot foute te maak nie. Hoe sterker die motor, hoe groter die druk.”

Renjaers met drie agtereenvolgende wêreldtitels:

Juan Manuel Fangio: 1954, 1955, 1956 en 1957

Michael Schumacher: 2000, 2001, 2002, 2003 en 2004

Sebastian Vettel: 2010, 2011, 2012 en 2013

Lewis Hamilton: 2017, 2018, 2019 en 2020.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Groen Ghoen ·

Mag die beste man wen! Solank daar goeie kompetisie is, en die vervelende Mercedes-oorheersing met sy arrogante renjaer verby is, sien ek uit na die F1 seisoen.

kragaap ·

As hy nie wen nie sal hy in elk geval redes vind om slagoffer te speel.

Boer ·

Hierdie jaar gaan die gandprix opwindend wees met Max as gunsteling, Charles, Checo, Nado en Russel kort op sy hakke jammer vir Hamilton hy is verby sy vervaldatum!!!!!!!!!!!!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.