MotoGP: Brad sit weer broer Darryn ore aan

Die Suid-Afrikaanse Brad Binder Moto GP Grand Prix. (Foto: KARIM JAAFAR / AFP)

Dit was Sondagmiddag in Portugal weer Brad Binder se beurt om sy jonger broer, Darryn, ʼn bietjie uit die kollig te skuif.

Brad het op die Algarve-renbaan vyfde in die Portugese MotoGP geëindig, terwyl Darryn, ná ʼn paar podiumplekke in vanjaar se eerste drie Moto3-renne, slegs 20ste kon eindig.

Die MotoGP is deur Fabio Quartararo (Yamaha) van Frankryk gewen, met Francesco Bagnaia (Ducati) van Italië tweede en Joan Mir van Spanje op ʼn Suzuki derde.

Franco Morbidelli (Yamaha) was vierde met Brad Binder (KTM), wat slegs in die vyfde ry in die 15de wegspringposie weggespring het, vyfde.

Binder het gaandeweg sy weg oopgeveg en toe Jack Miller, Alex Rins en Johann Zarco, wat almal voor hom was, geval het en nie die ren kon voltooi nie, het Binder kopgehou en druk op die voorlopers geplaas.

Quartararo is aanvanklik kwaai deur Rins uitgedaag, maar nadat die Suzuki-jaer met sewe rondtes oor geval het, was dit eenrigtingverkeer vir die Fransman.

Daar was boonop groot opgewondenheid in MotoGP-kringe toe die agtmalige voormalige kampioen, Marc Marquez, ná 265 dae weer kon jaag.

Die dokters het Marquez gewaarsku dat hy nie die volle gevoel in sy regterarm sou hê nie nadat hy drie operasies vir verskeie ernstige beserings ondergaan het. Hy het egter skitterend gevaar en net agter Brad Binder geëindig.

Die 16-jarige Pedro Acosta (KTM) het die Moto3-ren gewen en ook sy voorsprong op die kampioenskapspuntelys vergroot.

Hy is Sondag gevolg deur Dennis Foggia (Honda) met nog ʼn Honda-jaer, Andrea Migno, derde.

Acosta het nou 70 punte met Jaume Masia (39) tweede.

Darryn Binder (36) is derde.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.