ʼn Naweek wat Binder dalk wil vergeet

Brad Binder (Foto: Mirco Lazzari gp/Getty Images/AFP)

Die mededinging in vanjaar se MotoGP is só straf dat slegs een middelmatige vertoning by ʼn Grand Prix ʼn span se kanse vir die res van die seisoen kan beduiwel.

Dit het Suid-Afrika se Brad Binder en sy Red Bull KTM-span Saterdag en Sondag in Austin in Texas tydens die Amerikaanse MotoGP ervaar, want dit was ʼn naweek wat geen goeie herinneringe gebring het nie.

Binder het groot teëspoed tydens kwalifisering beleef en was slegs in die 17de wegspringposisie.

Dit het hom erg benadeel in Saterdag se korter blitsren toe hy 12de geëindig het.

In Sondagaand se MotoGP het hy ʼn hele paar jaers verbygesteek, maar kon slegs negende eindig nadat hy 14.931 sekondes agter die wenner geëindig het. Dit het hom duur te staan gekom, want hy het van tweede af op die kampioenskapspuntelys tot sesde afgeskuif.

Binder het Saterdagaand 12de in die blitsren geëindig en kon geen punte verdien nie.

Die Spanjaard Maverick Viñales (Aprilia) het die MotoGP in ʼn tyd van 41 minute 9.503 sekondes gewen.

Viñales is nou die eerste jaer wat vir drie verskillende spanne ʼn MotoGP kon wen.

Hy het voorheen een Grand Prix op ʼn Suzuki gewen en was agt keer op ʼn Yamaha baas voordat hy hom by Aprilia-span aangesluit het.

Viñales, wat na ʼn swak wegspring tot tiende afgeskuif het, het skitterend gejaag (op ʼn vinnige fiets) en het 1.728 sekondes voor die opwindende jongeling Pedro Acosta (GASGAS) geëindig, wat in net sy derde MotoGP gejaag het.

Acosta was weer op sy stukke en het die tweede agtereenvolgende keer ʼn podiumplek losgejaag.

Enea Bastianini (Ducati Lenovo) was derde gevolg deur Jorge Martin (Pramac Ducati).

Die huidige wêreldkampioen, Francesco Bagnaia (Ducati Lenovo), was vyfde en Fabio di Giannantonio (VR46 Ducati) sesde.

Martin (80 punte) is voor op die puntelys, gevolg deur Bastianini (59), Viñales (56), Acosta (54), Bagnaia (50) en Binder (49).

Die Spaanse Grand Prix is volgende op die lys en vind op 28 April in Jerez plaas.

Bron: Crashnet.com

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Casper ·

Ek sê dit nog altyd,Binder is nie wêreldkampion gehalte nie.

Windhond ·

Ek se dit nog altyd, Brad is wereld kampioen gehalte, hy het dit al bewys, en ek glo hy sal dit nog groot maak

Christian ·

Hy mag dalk nog nie ‘n wereldkampioen wees nie en dalk is dit ook nie vir hom beskore nie. Hy is wel vir die laaste 3 seisoen onder die top 5 bestes jaers in die wereld en dit is ‘n groot prestasie. Om getel te kan word onder die beste in die wereld in enige sport is fantasties. Hy het genoeg gewys die laaste paar jaar om baie mense te laat glo hy kan wel eendag die wereldkampioen word.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.