Nie eens tornado-waarskuwing bring Letchen van stryk

Letchen du Plessis het goed in Miami vertoon. Foto: Verskaf.

Suid-Afrika se Letchen du Plessis het inderdaad ’n lekker CrossFit-partytjie in Miami gehou. Nadat sy verlede jaar tweede in haar kategorie by die CrossFit-spele geëindig het, het sy nou met die louere in die Adaptive-afdeling by die Wodapalooza-kompetisie in Florida, VSA, weggestap.

Die Pretorianer het vier van die vyf fiksheidstoetse gewen om uiteindelik haar naaste teenstander met meer as 50 punte te klop.

“Dit is ’n groot kompetisie met baie meer deelnemers as by die Spele. Dit was ’n ongelooflike ervaring,” het sy laat weet toe sy weer terug in Suid-Afrika is.

Die voorlaaste oefensessie was haar gunsteling: Tien rondes van optrekke, snatches (’n moeilike storie wat van ’n deelnemer verwag om ’n gewig van die grond tot bo haar kop in een beweging op te tel) en opstote; alles natuurlik binne 12 minute.

Letchen was die enigste deelnemer in haar kategorie wat die uitdaging binne die verlangde tyd kon kafdraf.

Op die laaste dag van die kompetisie was daar ’n moontlikheid dat ’n tornado Miami sou tref, maar selfs dít kon haar nie van stryk bring nie.

“Dit het toe uiteindelik net baie gereën, maar al die podiumsessies is in die wiele gery en gekanselleer.”

Tog het sy $2 000 in die sak gesteek – “iets waaroor ek baie dankbaar is, want ek moes onbetaalde verlof by die werk neem” – terwyl die organiseerders ook binnekort haar ander pryse na Suid-Afrika sal stuur.

Oudergewoonte het sy weer met van die bekendes skouers geskuur.

“Ons het lekker met Justin Medeiros (verdedigende Spele-kampioen) en Heber Cannon (van die gewilde Buttery Bros-kanaal op YouTube) gesels.”

Letchen se CrossFit-loopbaan gaan ongetwyfeld van krag tot krag nadat sy in 2017 haar heup op die netbalbaan beseer het en ná een van haar vele operasies met distonie gediagnoseer is – ’n neurologiese toestand wat onwillekeurige sametrekking en spasma van die spiere veroorsaak.

“Dit was ’n lang pad om tot hier uit te kom. Ek moes byvoorbeeld in 2019 weer van voor af leer loop; om van daar tot by die Spele (en nou Wodapalooza) te vorder is iets waarop ek baie trots is.”

Met die wêreldwye Ope-kompetisie om die draai het haar Miami-prestasie vir die perfekte grondslag vir die res van die seisoen gesorg.

“Ek het nou vir ’n rukkie ’n blaaskans geneem, maar ek is binnekort weer terug in die gimnasium!”

Letchen se uitslae per oefensessie:

The Mia Bar Complex: Eerste

The Bayside Chipper: Eerste

Celebrate Ten: Eerste

Dale – An Elimination Sprint: Vierde

WZA OC Remix: Eerste

Algehele puntestand in haar kategorie:

  1. Letchen du Plessis 435 punte
  2. Andrea Unwin 380 punte
  3. Faith Fordham 315 punte
  4. Sydney Peterson 195 punte
  5. Shannon Ogar geen punte

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Stofpoepertjie ·

Soos die engelsman sou sê: You go girl!
Welgedaan Letchen, jy is n inspirasie vir ons almal (wat ons dik gatte n bietjie aan die beweeg kan kry!).
Ons is baie trots op jou!

Surfer ·

Om aan die beweeg te kom is niks, maar om dit more en oor-more weer te doen, dis die problem, ouchhhhh. LoL.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.