‘Nie gedink ons gaan só mededingend wees’ – Alonso

Fernando Alonso en sy Aston Martin-span vier hul sukses in die Bahreinse Grand Prix. Foto: Twitter.

Fernando Alonso kon kwalik sy vreugde beteuel toe hy in die derde plek oor die eindstreep in die Bahreinse Grand Prix gejaag het.

Die 41-jarige Spanjaard het onder meer hakskene vir Lewis Hamilton, George Russell en Carlos Sainz gewys, terwyl hy oudergewoonte met sy hardnekkige bestuurwerk beïndruk het.

Glad nie ʼn slegte vertoning as ʼn mens in ag neem dat dit sy eerste amptelike wedren agter die stuur van ʼn Aston Martin was nie.

“Dit was die perfekte aanloop tot hierdie projek. Ons het glad nie gedink ons gaan só mededingend wees nie. Die aanvanklike plan vir 2023 was om in die middel van die groep sake teen ander renjaers uit te spook en dan die een of ander tyd nader aan die topdrieplekke te beweeg,” het ʼn glimlaggende Alonso gesê.

Die F1-veteraan het Sebastian Vettel se plek by Aston Martin ingeneem nadat hy verlede seisoen nog vir Alpine in aksie was.

“Ja, ʼn podiumplek was dalk nie op ons radar nie, maar ons het ons in die naasbeste motor in Bahrein bevind; net agter Red Bull. Dit was inderdaad ʼn welkome verrassing, maar ons is ongelooflik trots op die werk wat die ouens agter die skerms gedoen het.”

Hy was duidelik ingenome met sy vuurwa en het tydens die wedren oor die spanradio laat weet dat dit “ʼn lieflike motor” is om te bestuur.

Die ervare renjaer erken egter dat daar nog baie water in die see moet loop voordat Aston Martin aan sy doelwitte vir die seisoen kan karring.

“Kom ons kyk eers wat gebeur. Maar ek het dieselfde gevoel tydens ons toetslopies gehad, asof dinge eintlik te goed is om te glo. As renjaer voel ʼn mens gereeld so en dan draai dinge glad nie uit soos wat jy gehoop het nie. Maar dié keer voel dinge anders; dit is inderdaad ʼn kragtige renmotor.”

Die geruite vlag is al 32 keer vir Alonso in F1-wedrenne geswaai, terwyl hy twee wêreldtitels agter sy naam het.

Hy is een van die talentvolste renjaers in motorsportgeskiedenis. Saam met sy F1-titels was hy ook al in aksie by die Le Mans- en Indy 500-reekse. Hy het ook 13de in sy eerste probeerslag in die moordende Dakar-uithourit geëindig.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Koos 100 ·

Fernando, jy is nie een van die 44 Afrikaanssprekendes nie, maar baie geluk ou groote. Basies met jou gesirkuleerde Merc en Merc enjin, stof in die Merc span se oë geskop. Toto moet nou nog wonder wat fout gegaan het

Snowball ·

Alonso is ‘n yster. Dit gaan ‘n interessante F1 seisoen wees; Toto se lippie hang al klaar op die vloer…

jou gewete ·

dink daar is nog manne met hang lippe en ai Ferrari bou voort op hulle ellende

Eugene ·

Welgedaan Alonso. Ek het die race gister gekyk. Ek dink lewis en Russell het nie gisteraand geslaap nie. Duim op vir jou.

kragaap ·

Uitstekend – Hy was uiters kompeterend. Toto, jorsie en ruskie is seker liggies bekommerd. Sal great wees as Aston derde eindig….

jou gewete ·

Alonso is n renjaer, nie n vertoonjaer nie.
Groot respek vir hom, hy kan goed doen met swakker motor, anders as van kompetisie wat net met absolute beste kan goed doen.
Hy is inklas van Fangio Senna Prost Schuhmacher Clarke. Verstappen is baie naby daaraan

Koos 100 ·

Neem net in ag dat die Reb Bull myle voor die res is, dis een van Max se groot troewe. Dan hou jou woorde nie lekker water nie. Max is goed, bitter goed, maar hy leun swaar op die kar en die se vermoeëns.

jou gewete ·

se jy, onthoeu dis van verlede jaar wat red bull beste is, hy het sy eerste kampioenskap met 2de beste kar en uitstekende werk van span en homself gevat. hy is minstens huidig na Alonso die beste renjaer en na hulle Russel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.