Nou is dit voorwaarts mars vir Kaapstad in 2023!

Norma Plummer. Foto: ANA.

Die Protea-netbalspan het, ondanks die ietwat teleurstellende eindwedstryd wat hulle met 42 – 58 teen Engeland verloor het, vierde in die Wêreldbeker-toernooi geëindig en kan beslis trots wees op hul vertoning.

Norma Plummer se span het onder meer met Jamaika afgereken, vir Australië harde bene laat kou, en Karla Pretorius is as die speler van die toernooi aangewys. Die toekoms lyk beslis baie meer rooskleurig met die oog op Kaapstad in 2023, wanneer Suid-Afrika die gasheerland vir die toernooi is.

Plummer, wat vir haar 50ste en laaste toets aan die stuur van Protea-sake was, het gesê hoewel sy hartseer is dat die span nie Engeland kon klop nie, is sy steeds ongelooflik trots op die meisies.

“Toegegee, ons het in die Engeland-kragmeting ’n paar ongedwonge foute gemaak, maar ek kan nie fout met enige van die spelers vind nie. Ons het gedurende hierdie Wêreldbeker onder die top-vier geëindig en dit is hoegenaamd nie ’n prestasie wat ʼn mens ligtelik moet neem nie. Hulle het die amperse onmoontlike vermag en het beslis hul name in die geskiedenisboeke geskryf,” het Plummer gesê.

Die span se kaptein, Bongiwe Msomi, het hulde aan Plummer gebring en gesê die span sou graag wou gehad het dat sy vir altyd as afrigter moet aanbly.

Maar soos wat die gordyn op een Wêreldbeker-toernooi sak, so begin die verhoogpersoneel weer die rekwisiete vir die volgende skouspel byeen te kry.

Kaapstad is nou die amptelike fakkeldraer vir die volgende toernooi, wanneer dié stad in 2023 gasheer vir die Wêreldbeker is.

Kaapstad se burgemeesterkomiteelid vir veiligheid en sekuriteit, JP Smith, het gisteraand die vlag namens die Moederstad van die Internasionale Netbal Federasie ontvang. Dit is nou voorwaarts mars vir 2023!

“Dit is ’n eer vir ons om die volgende gasheerstad vir die Wêreldbeker-netbaltoernooi te wees. Daar wag baie harde werk en voorbereiding op ons oor die volgende vier jaar en dit is belangrik dat die stad, provinsiale, sowel as nasionale regering die netbaltoernooi met dieselfde entoesiasme as die Fifa Wêreldbeker-sokkertoernooi in 2010 ondersteun. Kaapstad kan beslis ’n netbalskouspel van wêreldgehalte aanbied,” het Smith gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Therese van Schalkwyk ·

Indrukwekkende vertoning!
Die Australiër, Norma Plummer, het uitstekende werk gedoen by die Protea-netbalspan.

Roelf van Vuren ·

Ek bly in die Vrystaat en het n groot prostaat probleem was vandag by buitepasiente van Jhb Algemeen
Hulle kan nie help nie want ons woonstel in die Vrystaat
Vrystaat se gesondheid sorg onder groot druk
Is daar n manier wat ek by Jhb Algemeen kan inkom?

M ·

Kry n verwysing van jou huisdokter. Indien jy nie n huisdokter het nie, kry een.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.