Novak bespreek plek in halfeindstryd

Novak Djokovic is deur na die halfeindstryd van die ATP-eindtoernooi in Turyn. Foto: Marco Bertorello/AFP.

Novak Djokovic het sy plek in die halfeindstryd van die ATP-eindtoernooi bespreek toe hy omtrent vir Andrey Rublev van die baan gevee het.

Die Serwiër het die kragmeting met 6-4 en 6-1 gewen en hy erken dat dit een van sy beste vertonings van die jaar was. Dit het hom net 68 minute geneem om sy 43ste wedstryd van die seisoen te wen.

“Andrey is ʼn vaardige speler en hy is beslis ʼn taai kalant op die baan. Hy het egter momentum in die tweede stel verloor en ek kon munt daaruit slaan. Ek is beslis tevrede met my spel,” het Djokovic gesê.

Die 35-jarige tennisster het beslis Roger Federer se rekord van ses toernooiseges in sy visier. En wanneer hy in só ʼn bui is, is dit baie moeilik om hom op ʼn harde baan te stuit.

In die ander wedstryd het Stefanos Tsitsipas vir Daniil Medvedev met 6-3, 6-7 en 7-6 in ʼn aksiebelaaide kragmeting geklop.

Die Griek het ʼn paar kanse deur sy vingers laat glip om die wedstryd reeds in die tweede stel te beklink, maar hy het uiteindelik genoeg skietgoed gehad om die kampioen van 2020 te troef.

“Ek is nou omtrent vir jou moeg,” het Tsitsipas ná die wedstryd gesê.

“Dit het gevoel of die wedstryd net nie wou eindig nie. Ek is egter baie trots op my deursettingsvermoë en dat ek dit saam met die toeskouers kon geniet het.”

Uitslae:

Stefanos Tsitsipas klop vir Daniil Medvedev met 6-3, 6-7 en 7-6

Novak Djokovic klop vir Andrey Rublev met 6-4 en 6-1

Vandag se bepalings:

Rafael Nadal teen Casper Ruud

Felix Auger-Aliassime teen Taylor Fritz.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.