Novak dink nog nie aan uittrede

Novak Djokovic. Foto: Adrian Dennis/AFP.

Die ambisievlam brand nog helder vir Novak Djokovic.

Die wenner van 21 Grand Slam-titels was die naweek deel van die Laverbeker-aksie toe Roger Federer sy finale ATP-wedstryd gespeel het.

“Ek het nie net baie respek vir Roger as persoon nie, maar ook vir alles wat hy vir die sport gedoen het. Hy het ʼn epiese loopbaan agter die blad en hy is een van die bekendste atlete tot nog toe. Sy uittrede is ʼn hartseer oomblik vir tennis,” het Djokovic gesê.

Tog dink die 35-jarige atleet self nie aan uittrede nie.

“Ek wil nog speel, selfs al het ek al baie van my doelwitte bereik. Ek het steeds ongekende passie vir die sport en ek is honger vir sukses.”

Die Serwiër is vandeesweek in Tel Aviv in aksie waar hy onder meer dubbelspelwedstryde saam met Israel se Jonathan Erlich sal speel.

Djokovic en Erlich het in 2010 die dubbelspeltitel op die Queen’s Klub gewen en die 45-jarige Israeli het intussen aangedui dat hy sy tennisraket gaan wegbêre.

“Jonathan het ingestem om saam met my te speel,” het Djokovic geskerts.

“Dit is sy laaste toernooi en dit is ʼn voorreg om saam met hom op die baan te wees. Dit is immers voor sy tuisskare; hopelik sal ons so ver as moontlik in die toernooi vorder.”

Novak Djokovic. Foto: AFP. 

Die voormalige wêreldnommereenspeler het met ʼn gewrigbesering tydens sy Laverbeker-wedstryde gesukkel, maar hy kon gister weer vir twee uur oefen.

“Jy het nie ʼn towerstaf wat jy net kan swaai en al jou probleme verdwyn in ’n oogwink nie. Dinge soos ʼn mens se karakter, hoe jy oefen en jou leefstyl speel ʼn baie groot rol in jou uiteindelike sukses.”

Djokovic het in Julie sy sewende Wimbledon-titel verower toe hy vir Nick Kyrgios met 4-6, 6-3, 6-4 en 7-6 in die eindstryd van die ikoniese grasbaantoernooi geklop het.

“Ek kan van vreugde spring omdat ek hierdie spesiale oomblik weer kon ervaar. Ek aanvaar geen oorwinning as vanselfsprekend nie en veral nie op Wimbledon nie. Trouens voel elke oorwinning meer uniek as die vorige en ek is bevoorreg,” het hy destyds gesê.

Maar met dié dat hy aan die verkeerde kant van 30 is, weet Djokovic dat hy harder sal moet oefen en slimmer sal moet speel as hy by die jonger spelers wil kers vashou.

“Ek probeer gereeld nuwe dinge want ek wil as ʼn speler groei; veral wanneer jy teen iemand soos Carlos Alcaraz kragte meet, wat met soveel spierkrag en energie speel. Ek probeer altyd om my spel na ʼn hoër vlak te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Dan moet hy net die reels soos die res van die Aussies volg, hy’s nie bo die wet nie, alhoewel hul reeds sy 3 jaar skorsing terug getrek het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.