Novak op koers om titel te verdedig

Novak Djokovic het sy oog op ’n 11de Australiese Ope-titel. (Foto: X/ATP)

Novak Djokovic is op koers om sy Australiese Ope-kroon suksesvol te verdedig, terwyl hy ook ʼn 11de titel in sy visier het.

Die wêreld se voorste speler het pas die VSA se Taylor Fritz met 7-6, 4-6, 6-2 en 6-3 in die kwarteindstryd van die eerste Grand Slam-avontuur van die jaar geklop.

Djokovic was in die kol met 20 kishoue, terwyl hy ook ʼn spul punte met sy eerste afslane verdien het.

Die wedstryd het weliswaar amper vier uur geduur, maar die 36-jarige Serwiër het veral in die laaste twee stelle sy stem dik gemaak op die baan.

Oudergewoonte het Djokovic net lof vir sy teenstander se raket-in-die-hand-vernuf gehad.

“Ek dink Fritz verdien ʼn klop op die skouer vir sy vertoning; nie net vandag nie, maar ook in die hele toernooi. Hy het nou baie goed afgeslaan en my sodoende op die agtervoet gehou, terwyl ek ook maar lekker met die tydsberekening van my houe gesukkel het,” het die topgekeurde speler gesê.

Volgens Djokovic het hy aanvanklik gespook om sy stempel op die kragmeting af te druk, maar in die derde en die vierde stel het alles net in plek geval.

“Ek kon in die derde stel na ʼn hoër rat oorskakel en dit was uiteindelik die verskil tussen wen en verloor.”

Dit was die Serwiër se 33ste oorwinning op ʼn streep en Melbourne en die eindstreep van die Australiese Ope is ongetwyfeld binne sy bereik.

Italië se Jannik Sinner of Rusland se Andrey Rublev wag vir hom in die halfeindstryd.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

George ·

Lucky dat hy nie soveel kompitisie het soos wat Roger en Nadal gehad het nie. Ryg hulle maar in Novak, RF sal altyd as die beste gesien word, ongeag titels.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.