‘Novak wás beseer’ – tennisbaas

Novak Djokovic laat waai in Melbourne. Foto: Twitter.

Craig Tiley, die toernooidirekteur van die Australiese Ope, het bevestig dat Novak Djokovic met ʼn skeur van drie sentimeter in sy linkerdyspier in Melbourne gespeel het.

Desondanks het die Serwiese speler steeds met Stefanos Tsitsipas in die eindstryd afgereken om die 22ste Grand Slam-titel van sy roemryke loopbaan in toe oes, terwyl hy terstond ook vir Carlos Alcaraz as die wêreld se voorste speler onttroon het.

“Ek het die skanderings gesien; die dokters sal nie daaroor jok nie,” het Tiley gesê.

Djokovic moes tydens die toernooi bontstaan om joernaliste se vrae oor die omvang van sy besering te beantwoord nadat hy – volgens ʼn paar ontleders én spelers – hopeloos te maklik op die baan rondbeweeg het.

“Novak Djokovic is ʼn merkwaardige speler en hy het alles baie professioneel hanteer – selfs toe baie mense oor sy besering getwyfel het.”

Volgens Tiley verdien die Serwiese ster ʼn spesiale inskrywing in tennis se geskiedenisboeke.

“Geestelik is hy baie sterk; ʼn mens hoor nooit van enige senu-ineenstortings nie. Hy moes deur diepe waters gaan om sy tien Australiese Ope-titels te wen en ek dink nie iemand gaan sommer weer met ʼn soortgelyke prestasie vorendag kom nie.”

Die speler het self erken dat hy van die beste tennis van sy loopbaan in die afgelope toernooi gespeel het – seer dyspier of te nie.

“Ek was baie dankbaar vir die rusdag tussen die wedstryde want dit het my meer tyd gegee om te herstel. Sedert die vierde ronde van die toernooi het ek met baie meer gemak op die baan rondbeweeg en die bal baie suiwer geslaan. Ek is dankbaar vir elke liewe oomblik wat ek nog kan speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.