Novak wil nóg Slams wen

Novak Djokovic vier sy oorwinning in Melbourne. Foto: Patrick Hamilton/Belga via AFP.

Gaan Novak Djokovic binnekort sy raket wegbêre? Nie sommer nie!

Die Serwiër het gister die 22ste Grand Slam-titel van sy loopbaan gewen toe hy Stefanos Tsitsipas met 6-3, 7-6 en 7-6 in die eindstryd van die Australiese Ope geklop het.

En net soos wat Maroela Media vroeër berig het, lyk dit inderdaad of hy die fontein van ewige tennisjeug gevind het.

“Ek gaan my bes doen om fiks te bly. Ek is egter deeglik bewus van die feit dat ek nie meer 25 jaar oud is nie, maar ek glo daar steek nog ʼn paar toernooie in my. Kom ons kyk hoe ver kan ek gaan,” het hy ná afloop van gister se eindstryd gesê.

Hy het terstond ook die grootste sprong in die geskiedenis van die ATP-ranglys gemaak om die wêreld se voorste speler te onttroon.

Vóór die Aussie-ope was Djokovic vyfde op die wêreldranglys; ná sy jongste triomftog sal Carlos Alcaraz noodgedwonge vir hom moet plek maak.

Novak Djokovic wil nog vir so lank as moontlik tennis speel. Foto: Patrick Hamilton/Belga via AFP.

“Ek wil nog soveel as moontlik Slams wen. Op hierdie stadium van my loopbaan is trofees my grootste motivering om aan te hou speel en ek is nog baie gemotiveerd. Ek weet as ek goed voel – fisiek sowel as geestelik – ek nog ʼn goeie kans staan om enigiemand op die tennisbaan te klop.”

Djokovic het sy eerste Grand Slam-titel as ʼn 20-jarige in 2008 gewen en nou, 15 jaar later, is hy steeds ʼn krag waarmee daar rekening gehou moet word.

Volgens Goran Ivanisevic kan die Serwiese tennisster in die toekoms selfs beter word.

“Novak oefen deesdae harder as ooit; baie meer as in sy jonger dae. Dit is die hoofrede waarom hy nog so goed is en waarskynlik selfs beter sal word. Sy wil om te oefen en om sy vaardigheid op die baan te slyp, is ongelooflik inspirerend,” het die Kroatiese oudspeler gesê.

Ivanisevic het Djokovic se afslane uitgesonder.

“Almal het altyd gedink dat hy daarmee sukkel, maar nou wen hy baie punte daarmee en dit help hom gereeld wanneer hy hom in ’n moeilike situasie bevind. Sy teenstanders kry doodeenvoudig net nooit ʼn blaaskans wanneer hulle teen hom speel nie.”

Die speler erken self dat hy van die beste tennis van sy loopbaan by die afgelope toernooi gespeel het – seer dyspier ofte nie.

“Ek was baie dankbaar vir die rusdag tussen die wedstryde want dit het my meer tyd gegee om te herstel. Sedert die vierde ronde van die toernooi het ek met baie meer gemak op die baan rondbeweeg en die bal baie suiwer geslaan. Ek is dankbaar vir elke liewe oomblik wat ek nog kan speel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.