‘Onbekendes’ in eindstryd by Indian Wells

Die Britse tennisspeler Cameron Norrie. (Foto: Frederic Brown / AFP)

Dit is beslis nie die manseindstryd waarop toeskouers by die Indian Wells-toernooi in Kalifornië gehoop het nie. Reeds in die kwarteindstryd het die laaste goue seuns uitgeval en die enigste Amerikaner in die halfeindstryd is ook uitgeboender.

Vanaand se eindstryd sal beslis word tussen die Brit Cameron Norrie en die man van Georgië, Nikoloz Basilashvili. As jy ʼn weddenskap op enige van hierdie twee geplaas het om die eindstryd te haal, kon jy ʼn stewige wins gemaak het. Norrie was as 21ste gekeurde die hoogste gekeurde speler in die halfeindstryd.

Daar is wel so ʼn bietjie Suid-Afrikaanse belang by die eindstryd. Norrie is in Johannesburg gebore en het in Nieu-Seeland grootgeword. Hy was die nommer 1‑universiteitspeler in Amerika toe hy by die universiteit van Texas studeer het. Hy speel sedert 2013 vir Brittanje.

In die halfeindstryd het Norrie vir Grigor Dimitrov oorheers en hom 6-2 en 6-4 geklop. Die 26-jarige Norrie is die eerste Brit in die eindstryd sedert 2009. Andy Murray het toe teen Rafael Nadal verloor.

Norrie het nog net een titel gewen en dit was vroeër vanjaar in Los Cabos. Hy het ook in eindstryde gespeel in Estoril, Lyon en Londen.

Die 29ste gekeurde Basilashvili het die Amerikaner Taylor Fritz 7-6 (7/5) en 6-3 in die ander halfeindstryd geklop. Hy speel vir sy derde ATP-titel van die jaar nadat hy in Doha en München gewen het.

In die vroue-eindstryd pak die Spanjaard Paula Badosa vanaand vir Victoria Azarenka van Belo-Rusland.

 

 

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.