Osaka uit Franse Ope, wonder oor Wimbledon

Naomi Osaka tydens gister se wedstryd teen Amanda Anisimova in Parys. Foto: Christophe Archambault/AFP.

Naomi Osaka se Franse Ope-veldtog het gister in die eerste ronde tot ’n einde gekom toe Amanda Anisimova haar met 7-5 en 6-4 geklop het.

Nou wik en weeg die 24-jarige Japanse speler of sy later aan Wimbledon moet deelneem nadat die ATP- en WTA-beheerliggame besluit het om dié ikoniese grasbaan-toernooi van sy status te ontneem.

“As ’n mens nie punte by Wimbledon verdien nie, is dit meer soos ’n vertoontoernooi. Ek het nog nie ’n finale besluit geneem nie, maar soos wat dinge tans lyk, is die kans goed dat ek nie sal speel nie,” het Osaka gesê.

Sy het bygevoeg dat sy nie haar heel beste gee wanneer sy weet dat ’n toernooi slegs oor vertoonstatus beskik nie.

“Ek sal mal daaroor wees om te speel en meer ondervinding op grasbane te kry, maar terselfdertyd is ek ’n speler wat gemotiveer word as ek sien hoe ek op die ranglys vorder.”

Osaka het haar verlede jaar aan die Franse Ope onttrek nadat sy aan die vooraand van die toernooi gesê het dat sy geen mediaverpligtinge sal nakom nie omdat mediakonferensies glo haar geestesgesondheid benadeel.

“Dit was nooit my bedoeling om die aandag op myself te vestig nie; tog erken ek dat my tydsberekening swak was en dat ek die boodskap beter kon oordra,” het sy destyds gesê.

Intussen het Novak Djokovic en Rafael Nadal moeiteloos na die volgende ronde in Parys deurgedring nadat hulle onderskeidelik met Yoshihito Nishioka en Jordan Thompson afgereken het.

Iga Swiatek, die wêreld se voorste vrouespeler, se veldtog is ook nog op koers nadat sy vir Lesia Tsurenko in twee stelle geklop het.

Uitslae:

Novak Djokovic klop Yoshihito Nishioka met 6-3, 6-1 en 6-0

Marin Cilic klop Attila Balazs met 6-0, 6-1 en 6-2

Rafael Nadal klop Jordan Thompson met 6-2, 6-2 en 6-2

Cameron Norrie klop Manuel Guinard met 7-5, 6-2 en 6-0

Corentin Moutet klop Stan Wawrinka met 2-6, 6-3, 7-6 en 6-3

Nikoloz Basilashvili klop Maxime Cressy met 3-6, 2-6, 7-6, 6-4 en 6-4

Angelique Kerber klop Magdalena Frech met 2-6, 6-3 en 7-5

Ajla Tomljanovic klop Anett Kontaveit met 7-6 en 7-5

Diane Parry klop Barbora Krejcikova met 1-6, 6-2 en 6-3

Iga Swiatek klop Lesia Tsurenko met 6-2 en 6-0

Victoria Azarenka klop Ana Bogdan met 6-7, 7-6 en 6-2

Amanda Anisimova klop Naomi Osaka met 7-5 en 6-4.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Zollie ·

Stem saam. Dink sy is nou bang sy verloor ook op Wimbledon

Snuffelgids ·

Naomi Osaka Hamilton…jy sal nie gemis word by Wimbledon nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.