Oudkampioen kap na swetsende Lewis

Lewis Hamilton in Nederland. Foto: Kenzo Tribouillard/AFP.

Jacques Villeneuve, voormalige F1-wêreldkampioen, het vir Lewis Hamilton as aggressief en beledigend bestempel ná die Mercedes-renjaer se geswetsery oor sy spanradio die afgelope naweek.

“Ek was verstom deur Hamilton se uitbarsting en veral die manier waarop hy dit gesê het. Ná alles wat Mercedes al deur die jare vir hom gedoen het, kan hy nie so met hulle praat nie,” het Villeneuve in ʼn F1-rubriek geskryf.

Hamilton was Sondag goed die hoenders in nadat Mercedes besluit het om vir George Russell (en nie vir hom nie) met vinniger bande toe te rus.

Die sewemalige wêreldkampioen kon vanjaar nog nie ʼn wedren wen nie, maar hy was goed op koers na die geruite vlag op die Zandvoort-renbaan.

Die bande-fiasko het egter beteken dat Max Verstappen sowel as Russell hom kon verbysteek en hy moes met ʼn uiteindelike vierde plek tevrede wees.

“Ek kan nie glo julle het my so ingedoen nie. Julle verstaan nie hoe kwaad ek is nie!” het die 37-jarige oor die spanradio gebulder. Nodeloos om te sê het hy die boodskap ook met ʼn vloekwoord of twee ingekleur.

Hy het egter intussen om verskoning gevra, maar volgens Villeneuve pas dié gedrag hoegenaamd nie by ʼn wêreldkampioen-renjaer nie.

“Lewis was aggressief, amper beledigend. Dit is goed dat hy jammer gesê het.”

Volgens Hamilton het Mercedes oor die nodige spoed beskik om die wedren te wen, terwyl hul kuipstopsessies ook die beste was.

“Ek weet eerlikwaar nie eens wat ek gesê het nie. Ek het vir ʼn sekonde of twee net rooi gesien, maar ek dink hulle weet hoeveel passie by alles betrokke is,” het die Brit gesê.

“Die veiligheidsmotor ek ook nie gehelp nie en ek het breekpunt bereik. Ek vra om verskoning en ek het 100% vertroue in die span.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kobus ·

As ‘n krummeltjie ‘n broodjie geword het kan jy so met mense praat. Groter as die sport.

VaalDonkie ·

Ek hou nie van daai kapokhaantjie nie, maar as mens onder sulke geweldige druk is, dan raak mens soms so. As jy nog nie self in so ‘n situasie was nie, sal jy nie verstaan nie.

Andre ·

Al het hulle hom die viniger bande gegee sou Max hom buitendien in sy pekie in gery het kyk hoe ver agter was Russel met sy viniger bande,hamilton is pateties en vol verskonings

Clifford ·

Dieselfde besluit oor bande het Lewis laasjaar die titel gekos, so mens verstaan sy reaksie.

Renier ·

En as die medium bande gewerk het,was dit hy,nie sy span nie. Swak sportman

MakersMark ·

Kla oor als en blameer almal. Die tweede Merc bestuurder met baie minder ervaring het op die podium geeindig met dieselfde motor. Sê baie.

Bennie ·

Hy bly maar ‘n swak voorbeeld. Definitief nie my idee van iemand wat ‘n wêreldkroon met grasie kan dra nie

Marthinus W ·

Mercedes het hom gemaak. Hulle het Schumi, met n vrot motor, uitgeskop, en toe dadelik n fantastiese nuwe kar en Hamilton daarin, vorendag gebring. Hamilton het vaardighede, maar hy het nie die kaliber renjaers soos Schumi gehad om teen mee te ding nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.