Podiumplek moet hokkiespanne se doelwit wees

Suid-Afrika se vroue-hokkiespan. (Foto: MARTIN BUREAU / AFP)

Die Proteas se vroue- en manshokkiespanne se Statebondspele-veldtogte begin onderskeidelik op 29 en 30 Julie in Birmingham. Die vroue sal teen Skotland te staan kom, terwyl die mans met Pakistan sal kragte meet.

Al twee spanne se beste vertoning by die vorige Spele was ’n vierde plek en hulle sal ongetwyfeld probeer om op die podium in Engeland te staan.

Die Suid-Afrikaners het onlangs litte vir die sportskouspel met ’n paar wedstryde teen Wallis in Cardiff losgemaak.

Die Protea-mans het hul openingswedstryd met 5 – 3 gewen danksy doele deur Bili Ntuli (2), Connor Beauchamp, Nicholas Spooner en Keenan Horne.

Die ervare Tim Drummond – wat sy land reeds drie keer by die Statebondspele verteenwoordig het – sal die Proteas in Birmingham aanvoer, terwyl hulle ook op gesoute spelers soos Taine Paton en Jethro Eustice kan staatmaak.

Boonop het die Suid-Afrikaners al vantevore gewys dat hulle saam met die beste spanne kan gesels. Wie sal ooit Drummond en kie se geskiedkundige oorwinning teen Duitsland tydens die Olimpiese Spele in Tokio vergeet?

Die Suid-Afrikaanse manshokkiespan vier hul oorwinning teen Duitsland. Foto: Twitter.

“Dit was ’n ongelooflike wedstryd. Ons het geglo ons kan dit doen en die ouens weet nou hoe dit voel [om ’n sterker span te klop],” het Drummond destyds gesê.

Die Protea-vroue het egter hul eerste wedstryd teen Wallis met 1 – 0 verloor.

Hulle kan ook op ervare spelers soos Lisa Deetlefs en Quanita Bobbs steun en hulle sal poog om op hul vierdeplekvertoning van 2010 en 2014 te verbeter.

’n Podiumplek kan ’n moeilike doelwit wees – veral wanneer daar in die groepfase teen sterk spanne soos Australië en Nieu-Seeland gespeel word – maar waarom neem jy deel as daar nie op vorige vertonings verbeter wil word nie? Buitendien is die Suid-Afrikaners ook bekend vir hul geesdrif en harde werk op die hokkieveld.

  • Spanne vir Statebondspele:

Mans: Connor Beauchamp, Daniel Bell, Dayaan Cassiem, Mustapha Cassiem, Tim Drummond, Jethro Eustice, Matt Guise-Brown, Keenan Horne, Le-Neal Jackson, Cowan Jones, Ryan Julius, Tevin Kok, Peabo Lembethe, Samkelo Mvimbi, Siya Nolutshungu, Bili Ntuli, Taine Paton en Nicholas Spooner.

Vroue: Bernadette Coston, Bianca Wood, Edith Molikoe, Erin Christie, Hannah Pearce, Hanrie Louw, Jean-Leigh du Toit, Kristen Paton, Lisa-Marie Deetlefs, Lillian du Plessis, Maboloke Serage, Marizen Marais, Onthatile Zulu, Phumelela Mbande, Quanita Bobbs, Robyn Johnson, Shirndre-Lee Simmons en Tarryn Lombard.

  • Statebondspele-groepe:

Mans:

Groep A saam met Australië, Nieu-Seeland, Pakistan en Skotland.

Bepalings:

30 Julie teen Pakistan

1 Augustus teen Skotland

3 Augustus teen Australië

4 Augustus teen Nieu-Seeland.

Vroue:

Groep B saam met Australië, Nieu-Seeland, Skotland en Kenia.

Bepalings:

29 Julie teen Skotland

31 Julie teen Australië

2 Augustus teen Kenia

4 Augustus teen Nieu-Seeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.