Proteas moet WB op hoë noot teen Wallis begin

Die Proteas aan’t oefen ter voorbereiding vir die Wêreldbeker-netbaltoernooi. Foto: (Twitter/Netball SA)

Dit is altyd lekker wanneer ʼn tikkie sportgeskiedenis jou laat glimlag en Suid-Afrika sal ongetwyfeld trots wees wanneer hulle na hul vorige kragmetings teen Wallis terugkyk.

Die twee lande was al drie keer vantevore by die Wêreldbeker-skouspel slaags en die Suid-Afrikaners was nog nie aan die verloorkant nie.

In 1963 het hulle die wedstryd met 86 – 18 beklink, in 1999 met 80 – 31 terwyl hulle in 2015 met 68 – 40 as oorwinnaars van die baan gestap het.

Norma Plummer en kie sal Vrydagaand op ʼn soortgelyke vertoning in Kaapstad hoop wanneer die Proteas hul openingswedstryd van die internasionale uitkloptoernooi teen die einste Wallis speel.

ʼn Goeie aanloop tot die Wêreldbeker-avontuur sal beslis hul podiumplekdrome ʼn welkome hupstoot gee.

“Dit is inderdaad ʼn groot taak wat op die spelers en afrigters wag – daar is al baie oor ons tuisbaanvoordeel en moontlike podiumkanse in die media gegons. Tog is dit iets waarna ons almal uitsien; ons wil bitter graag goed doen,” het Ine-Marí Venter aan Maroela Media gesê.

Volgens die 28-jarige doelspeler kan die hegte band onder die Proteas ʼn deurslaggewende rol in die toernooi speel.

“Wanneer jy by die Protea-kamp instap voel dit of jy vir jou familie gaan kuier. Ons is ʼn groep wat goed vir mekaar wil speel en daardie verhouding sal ons beslis deur hierdie Wêreldbeker-toernooi dra.”

Dit is juis die esprit de corps onder die Suid-Afrikaanse spelers wat beteken dat persoonlike doelwitte makliker plek vir gesamentlike spandrome maak.

“Ons sal nou – meer as ooit tevore – op ons beste vir mekaar moet wees; ongeag van wat jou betrokke rol in die span is. Ek wil gereed wees wanneer die span my nodig het.”

Proteas se Wêreldbekergroep: Bongi Msomi (kaptein), Karla Pretorius (onderkaptein), Khanyisa Chawane, Izette Griesel, Phumza Maweni, Lenize Potgieter, Nicola Smith, Jeante Strydom, Nichole Taljaard, Elmere van der Berg, Shadine van der Merwe en Ine-Marí Venter. Reserwe-spelers: Owethu Ngubane, Refiloe Nketsa en Lefebre Rademan.

Vrydag se bepalings:

09:00: Tonga teen Fidji en Nieu-Seeland teen Trinidad & Tobago

11:00: Australië teen Zimbabwe en Uganda teen Singapoer

18:00: Suid-Afrika teen Wallis en Jamaika teen Sri Lanka

20:00: Malawi teen Skotland en Engeland teen Barbados

Saterdag se bepalings:

09:00: Nieu-Seeland teen Uganda en Zimbabwe teen Fidji

11:00: Jamaika teen Wallis en Australië teen Tonga

16:00: Suid-Afrika teen Sri Lanka en Skotland teen Barbados

18:00: Engeland teen Malawi en Trinidad & Tobago teen Singapoer

Sondag se bepalings:

09:00: Wallis teen Sri Lanka en Australië teen Fidji

11:00: Malawi teen Barbados en Nieu-Seeland teen Singapoer

16:00: Engeland teen Skotland en Uganda teen Trinidad & Tobago

18:00: Tonga teen Zimbabwe en Jamaika teen Suid-Afrika

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.