Proteas wen, maar podiumdroom ly skipbreuk

Bongi Msomi in aksie teen Uganda. (Foto: Twitter/Netball SA)

Die Proteas het aanvanklik Donderdagmiddag hul bes gedoen om soveel as moontlik doele teen Uganda aan te teken.

Ine-Marí Venter en kie was tot die 28ste minuut van die kragmeting in die kol met 100% van hul doelpogings en die Suid-Afrikaners het ʼn rustydvoorsprong van 33 – 19 geniet.

Die Proteas moes hul laaste Wêreldbeker-groepwedstryd in Kaapstad met meer as 60 doele wen om na die bekeruitspeelwedstryde deur te dring.

Tog het die She Cranes skielik ná rustyd vlamgevat en Suid-Afrika se verdedigers moes hul storie ken om die een aanval na die ander in die kiem te spoor.

Toe die eindfluitjie uiteindelik blaas, het die tuisspan weliswaar met 52 – 50 gewen, maar hul drome van ʼn Wêreldbeker-podiumplek het skipbreuk gely.

Hulle is nou later vandag teen Tonga in aksie.

“Dit is ʼn teleurstellende oorwinning teen Uganda – ek bedoel, ons het gelykop teen Nieu-Seeland gespeel en daardie uitslag het vir ons soos ʼn wen gevoel,” het Bongi Msomi gesê.

Die Protea-kaptein is veral omgekrap omdat haar span nie die voet op die versnelpedaal gehou het nie.

“Ons sou baie daarvan gehou het om in die halfeindstryd te speel. Ons het geweet dat ons op ons heel beste teen Uganda moet wees en ons wou so graag wen. Teen rustyd het dit gevoel of ons nog ʼn kans staan; die uiteinde van die wedstryd is baie teleurstellend.”

Sy het egter beloof dat die Suid-Afrikaners steeds goeie netbal sal opdis. Hulle is immers ’n span waarop ondersteuners trots kan wees.

“Ons volgende doelwit is om ons ranglysplek te verseker. Uganda het net weer eens vir almal bewys dat hulle ʼn netbalkrag is waarmee daar rekening gehou moet word. Ons wou bitter graag nou beter gedoen het as by die vorige toernooi in 2019.”

Tellings ná elke kwart:

Eerste kwart: Proteas 16 – 11 Uganda

Tweede kwart: Proteas 17 – 8 Uganda

Derde kwart: Uganda 17 – 8 Proteas

Vierde kwart: Uganda 14 – 11 Proteas

Vandag se bepalings:

09:00: Singapoer teen Sri Lanka

11:00: Zimbabwe teen Barbados

16:00: Malawi teen Uganda

18:00: Suid-Afrika teen Tonga.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

piet ·

Dit was naby. Ek dink die Ugandese is potensiaalgewys beter spelers as die Proteas. Ek bedoel, wat gaan nou eintlik aan in Uganda. Almal amateurs en hulle het verseker nie so ‘n goedgeorganiseerde liga soos hier nie. Hulle het ook geen blootstelling teen die topspanne in die wereld teen wie ons gereeld speel nie. Gee hulle ‘n bietjie meer blootstelling en hulle druk die Proteas verseker in ‘n blik. So terloops – beide Uganda en Malawi het al die Proteas vantevore geklop.

George ·

meeste van ons Proteas speel nie plaaslik nie, maar in Engeland en Australie, en het net die oefen kamp en oefening met WC om as een unit te speel, wat beslis n negatiewe effek het. As ons dames saam as n span speel vir n jaar voor die WC en ons dames plaaslik speel, sal die resultate anders wees, dit kan ek jou belowe. Maar die Proteas kan hul kenne lug, hulle het bitter goed gespeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.