Raducanu verlaat baan in trane

Emma Raducanu. Foto: Julian Finney/Getty Images/AFP.

Met die Australiese Ope skaars 11 dae ver het die beseringspook weer eens sy verskyning by Emma Raducanu gemaak.

Die jong Britse tennisster het vandag in Auckland die baan in trane verlaat – ʼn enkelbesering het haar ASB Classic-wedstryd teen Viktoria Kuzmova kortgeknip.

Raducanu het die eerste stel op ʼn drafstap met 6-0 gewen, maar die Slowaakse speler het terugbaklei om die daaropvolgende stel met 7-5 te beklink.

ʼn Rukkie later het die 20-jarige ster – wat mediese behandeling vóór die derde stel ontvang het – die aftog geblaas.

Raducanu het twee jaar gelede die verbeelding van die tenniswêreld aangegryp toe sy in New York tydens die Amerikaanse Ope die septer geswaai het.

Sy het in 2021 onder meer die eerste kwalifiseerder geword om ʼn Grand Slam-titel te wen, terwyl sy ook die eerste vrouespeler sedert Serena Wiliams in 2014 geword het om nie ʼn stel in die Amerikaanse Ope af te staan nie.

Sedert haar triomftog in New York het sy met haar spelpeil gesukkel terwyl beserings ook ʼn gereelde verskynsel geword het. Sy moes verlede jaar in vyf van haar wedstryde die handdoek ingooi.

Tog was sy slaggereed vir 2023 en sy het ná ʼn vertoonwedstryd in Desember gesê dat sy baie makliker op die baan rondbeweeg.

Raducanu is tans 78ste op die WTA-ranglys nadat sy vroeër onder die toptien-vrouespelers ter wêreld getel het. Haar kritici meen dat sy meer op borgskappe as haar spel konsentreer.

Sedert haar sukses in die Amerikaanse Ope het sy borgskapooreenkomste met die juweliersfirma Tiffany, die Duitse motormaatskappy Porsche, die Franse modehuis Dior, die Britse telekommunikasie-maatskappy Vodafone en die lugredery British Airways gesluit.

Maroela Media het verlede jaar berig dat die borgskappe haar glo meer as $20 miljoen per jaar in die sak bring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie Biebouw ·

Ek wonder hoeveel van die beserings is psigosomaties van aard.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.