Rafa erken senuwees knaag voor Aussie Ope

Rafael Nadal. Foto: Claudio Cruz/AFP.

Ná meer as 1 000 tenniswedstryde en 92 loopbaantitels (waaronder 22 Grand Slams) erken Rafael Nadal dat die senuwees steeds voor groot toernooie knaag.

En nou, op die vooraand van die Australiese Ope, is daar omtrent vir jou fladderende vlinders in sy maag.

Die 36-jarige speler is die verdedigende kampioen nadat hy verlede jaar met Daniil Medvedev in ʼn titaniese eindstryd afgereken het. Maar sedertdien het die beseringspoke weer begin pla, terwyl hy deesdae ook ʼn paar wedstryde verloor.

“Ja, ek voel natuurlik kwesbaar. Ek is meer as gewoonlik aan die verloorkant, maar dit is seker alles deel van professionele sport,” het hy tydens ʼn perskonferensie op die vooraand van sy openingswedstryd teen Jack Draper in Melbourne gesê.

Die 21-jarige Brit beloof om ʼn taai teenstander te wees – hy het al met van die wêreld se topspelers afgereken en hy sien uit om rakette met die ervare Spanjaard te kruis.

“Dit is rêrig een van die moeilikste openingswedstryde van my loopbaan. Jack is jonk, talentvol en hy is besig om die internasionale ranglysleer blitsig uit te klim. Ek glo egter dat ek altyd ʼn kans staan om ʼn wedstryd te wen.”

Volgens Nadal is hy al ervare genoeg om te weet wanneer hy nie op sy beste is nie.

“Ek sal indringend weer moet momentum opbou; goeie vertonings gee immers ʼn mens se selfvertroue ʼn welkome hupstoot.”

Hy is egter tevrede met sy voorbereidingswerk.

“Ek is al vir die afgelope drie weke in Australië en ek is saam met die beste spelers ter wêreld op die oefenbaan. Dit help baie wanneer jy vertroue in jou voorbereiding het.”

Die Australiese Ope begin amptelik môre.

  • Eersteronde-bepalings (topgekeurde spelers):

Rafael Nadal (1) teen Jack Draper

Casper Ruud (2) teen Tomas Machac

Stefanos Tsitsipas (3) teen Quentin Halys

Novak Djokovic (4) teen Roberto Carballes Buena

Andrey Rublev (5) teen Dominic Thiem

Felix Auger-Aliassime (6) teen Vasek Pospisil

Daniil Medvedev (7) teen Marcos Giron

Taylor Fritz (8) teen Nikoloz Basilashvili

Holger Rune (9) teen Filip Krajinovic

Hubert Hurkacz (10) teen Pedro Martinez

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.