Rafa gee Novak ʼn groot klop op die skouer

Novak Djokovic en Rafael Nadal. (Foto: Anne-Christine Poujoulat/AFP)

Rafael Nadal het bevestig wat talle tennisliefhebbers heimlik eintlik lank reeds vermoed: Novak Djokovic is die beste speler nóg.

Volgens die Spaanse ster draai die statistieke nie doekies om nie – met sy 24 Grand Slam- en ʼn rits ATP-titels is Djokovic die voorste speler in die spel se geskiedenis.

Sukses op die baan beteken nie noodwendig gewildheid onder die toeskouers nie – soos die 36-jarige Serwiër al telkemale agtergekom het.

“Die beeld wat hy uitstraal, vertel nie altyd die volle storie nie. Ek dink hy is ʼn goeie mens,” het Nadal in ʼn onderhoud met ʼn Spaanse koerant gesê.

“Daar is oomblikke waar die frustrasiepot dreig om oor te kook. Novak sal byvoorbeeld sy raket stukkend slaan, maar die volgende oomblik is hy weer 100% gereed vir aksie. Dit is die beste wat ek nóg gesien het.”

Djokovic het 30 van sy wedstryde teen Nadal gewen, terwyl die Spanjaard 29 keer as oorwinnaar van die baan ná hul tweestryde gestap het.

Waar Nadal die septer op kleibane (20 gewen, 8 verloor) swaai, is Djokovic weer die hardebaanmeester (20 gewen, 7 verloor).

Volgens Djokovic is hy steeds oorgehaal om titels in te oes.

“Die jonger manne is honger vir sukses en hulle wil hul beste tennis teen my speel. Nou ja, dit motiveer my ook om op my beste te wees. Hulle het beslis vir my nuwe vuur en passie gegee,” het die wêreld se voorste speler gesê.

Hy het ook al vantevore erken dat hy emosie op die baan verwelkom.

“Ek mag dalk gefokus lyk, maar soms woed daar ʼn storm binne my. Wanneer die emosies kom, aanvaar ek dit doodeenvoudig net. Ek mag dalk op die baan skree, maar sodra ek uiting aan my frustrasie gegee het, kan ek die herstelknoppie druk en terugveg.”

Novak Djokovic, Rafael Nadal en Roger Federer: Drie van die beste tennisspelers ooit. (Foto: Matthew Stockman/Getty Images/AFP.)

Uitslae van die laaste vyf wedstryde tussen die twee spelers:

Rafael Nadal klop Novak Djokovic met 6-2, 4-6, 6-2 en 7-6 in die kwarteindstryd van die Franse Ope (2022).

Novak Djokovic klop Rafael Nadal met 3-6, 6-3, 7-6 en 6-2 in die halfeindstryd van die Franse Ope (2021).

Rafael Nadal klop Novak Djokovic met 7-5, 1-6 en 6-3 in die eindstryd van die ATP-toernooi in Rome (2021).

Rafael Nadal klop Novak Djokovic met 6-0, 6-2 en 7-5 in die eindstryd van die Franse Ope (2020).

Novak Djokovic klop Rafael Nadal met 6-2 en 7-6 in die eindstryd van die ATP-beker (2020).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Theresa ·

Wat n ongelooflike sportman is Rafa Nadal….sal nooit negatief van n ander speler praat nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.