Rafa kan terugkeer by Australiese Ope maak

Rafael Nadal. (Foto: Martin Keep/AFP)

Craig Tiley, toernooi-direkteur van die Australiese Ope, het bevestig dat Rafael Nadal weer in Melbourne sal afslaan.

ʼn Heupbesering hou die 37-jarige Spanjaard al geruime tyd langs die baan; hy het onder meer vanjaar sy geliefde Franse Ope op Roland-Garros misgeloop, terwyl hy ook nie deel van die Wimbledon-aksie was nie.

“Ons kan eksklusief onthul dat Rafa terug sal wees,” het Tiley in ʼn onderhoud met Australië se Nine Network gesê.

“Ek het in die afgelope paar dae met hom gesels en hy het bevestig dat hy in Melbourne sal wees. Natuurlik is almal baie opgewonde daaroor – hy was immers in 2022 die kampioen.”

Die Australiese Ope sal ook vir die eerste keer in 2024 op ʼn Sondag begin, wat beteken dat die toernooi oor 15 dae sal strek.

“Ons het na die terugvoer van spelers en ondersteuners geluister en hopelik sal die bykomende dag die laataandwedstryde verminder.”

Nadal, wat in Junie op die operasietafel was, het vroeër erken dat daar nog harde werk op hom wag.

“Ek wil weer speel, maar ek weet ek gaan nie net op die baan stap en in Parys of Melbourne wen nie. Ek is deeglik bewus van die hindernisse wat in my pad staan – ouderdom is ʼn gegewe, maar fisieke probleme kan jy probeer oorbrug,” het Nadal vir Movistar+ gesê.

Die Spanjaard het reeds twee keer in sy loopbaan met die Australiese Ope-louere weggestap. Benewens sy sukses in 2022 het hy ook in 2009 in Melbourne die septer teen Roger Federer geswaai.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.