Rafa opgewonde oor Turynse ATP-avontuur

Rafael Nadal. Foto: William West/AFP.

Die ATP-eindtoernooi begin Sondag in Turyn en Rafael Nadal is opgewonde om deel van die uitgelese groep spelers te wees.

“Dit is altyd baie goeie nuus om in die laaste toernooi van die jaar te speel. Dit beteken dat jy ʼn goeie seisoen agter die blad het en ek is baie opgewonde,” het die Spaanse tennisster gesê.

Nadal het vanjaar met die louere by die Australiese en Franse Ope weggestap, maar beserings het gedreig om sy momentumtrein lelik te ontspoor. Boonop het hy sy eerste wedstryd terug op die baan in Parys met 3-6, 7-6 en 6-1 teen Tommy Paul van die VSA verloor.

Maar elke nuwe toernooi begin op ʼn skoon bladsy en die 36-jarige speler het selfs ʼn kans om die titel as die wêreld se voorste speler by Carlos Alcaraz af te rokkel. Om dít te doen sal hy nie net die silwerware in Turyn omhoog moet hou nie, maar terselfdertyd ook duimvashou dat Stefanos Tsitsipas sommer vroeg reeds oor ʼn belangrike hekkie struikel.

“Dit is die eerste keer dat ek in Turyn is en dit is beslis ʼn nuwe ervaring vir my. Ek sien egter daarna uit om my beste op die baan te gee.”

Spelers wat vir die toernooi gekwalifiseer het: Rafael Nadal, Stefanos Tsitsipas, Casper Ruud, Daniil Medvedev, Felix Auger-Aliassime, Andrey Rublev, Novak Djokovic en Taylor Fritz.

Interessante statistieke: Roger Federer hou die rekord vir die meeste toernooiseges (ses), terwyl John McEnroe die jongste kampioen nóg is toe hy in 1978 die trofee as ʼn 19-jarige speler in ontvangs geneem het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.