Rafa se Parys-rekord sal nie sommer verbeter word

Rafael Nadal is die tennismeester van Parys. Foto: Twitter.

Rafael Nadal het Sondag sy 14de Franse Ope-titel in Parys gewen toe hy moeiteloos met Casper Ruud in die eindstryd afgereken het.

Sodoende het die 36-jarige Spanjaard nie net die oudste speler nóg geword om die silwerware op Roland-Garros omhoog te hou nie, maar sy oorwinning van 6-3, 6-3 en 6-0 is van die mees eensydige eindstryde in die geskiedenis van die toernooi.

Die Britse tennisspeler Andy Murray het vinnig ’n paar somme ná Nadal se Parys-heldedade gedoen. In ’n neutedop het hy bevind dat die “koning van klei” nie sommer op Roland-Garros onttroon sal word nie.

“Om 14 Grand Slam-titels op dieselfde plek te wen is ’n ongelooflike prestasie. Daar is baie spelers wat nie eens die geleentheid sal kry om 14 keer op Roland-Garros te speel nie; om dan nie eens van die silwerware te praat nie,” het Murray gesê.

Volgens die Brit sal ’n speler uit sy sokkies moet speel indien hy enige drome koester om Nadal se rekord te ewenaar.

“’n Talentvolle speler soos Carlos Alcaraz is nou 19 jaar oud. Indien hy gelyk met Nadal wil breek, sal hy elke liewe Franse Ope-toernooi moet wen totdat hy 33 jaar oud is. Ek dink nie dit sal sommer gebeur nie.”

Dit was ook die Spanjaard se 22ste Grand Slam-titel; twee meer as Roger Federer en Novak Djokovic.

Sy kwarteindstryd-sege teen Djokovic was sy 29ste oorwinning teen die wêreld se voorste speler. Op sy beurt het Djokovic 30 van sy tweestryde met Nadal gewen.

Nadal het vir Casper Ruud in ’n eensydige eindstryd oorrompel. Foto: Twitter.

Maar 20 van Nadal se oorwinnings was op kleibane, terwyl hy net sewe keer met Djokovic op harde bane kon afreken.

Tog is die Spanjaard die onbetwisbare meester van Parys. Hy is onoorwonne in 14 eindstryde; niemand anders het meer as ses keer met die silwerware weggestap nie.

“Vir my is die Franse Ope die beste toernooi in die hele wêreld. Van die organiseerders tot die baljoggies laat ’n mens tuis voel,” het ’n glimlaggende Nadal tydens Sondag se trofee-seremonie gesê.

“Dit is moeilik om my emosies te beskryf; ek het nooit gedink dat ek op 36-jarige ouderdom hier sal kan staan en steeds mededingende tennis speel nie. Ek weet nie noodwendig wat die toekoms vir my inhou nie, maar ek sal aanhou veg,” het hy onder luide applous gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.