Rafa slaak ʼn sug van verligting

Rafael Nadal glo dat sy eersteronde-oorwinning teen Jack Draper sy selfvertroue ’n definitiewe hupstoot gegee het. Foto: Twitter.

Rafael Nadal – en sy ondersteuners – het ʼn sug van verligting geslaak nadat hy met Jack Draper in die openingsronde van die Australiese Ope kon klaarspeel.

Die verdedigende kampioen het vooraf gesê dat die Draper-kragmeting een van die moeilikste openingswedstryde van sy loopbaan kan wees. Daarbenewens het hy ses van sy laaste sewe wedstryde in die aanloop tot die eerste Grand Slam van die jaar verloor.

Hy het egter genoeg gedoen om die jong Brit met 7-5, 2-6, 6-4 en 6-1 in Melbourne te klop.

“Dit was die belangrikste dat ek die wedstryd gewen het; maak nie saak hoe dit gelyk het nie.  Dit was hoegenaamd nie ʼn perfekte vertoning nie, maar ek is tevrede,” het die 36-jarige Spanjaard gesê.

Hy sal in die volgende ronde rakette met Mackenzie McDonald kruis nadat die Amerikaner in sy wedstryd teen Brandon Nakashima met 7-6, 7-6, 1-6, 6-7 en 6-4 as oorwinnaar van die baan gestap het.

“Ek is gereed vir enige uitdaging en sal aanhou om vir elke punt op die baan te baklei. Hierdie oorwinning teen Jack het my selfvertroue beslis ʼn hupstoot gegee,” het Nadal gesê.

Dan het Suid-Afrika se Lloyd Harris ʼn slag geslaan toe hy die 17de gekeurde Lorenzo Musetti in vyf stelle met  6-4, 6-1, 7-6, 6-2 en 7-6 getroef het.

Die jong Kapenaar speel Woensdag in die tweede ronde teen Márton Fucsovics van Hongarye.

Uitslae:

Daniil Medvedev klop Marcos Giron met 6-0, 6-1 en 6-2

Andrey Rublev klop Dominic Thiem met 6-3, 6-4 en 6-2

Lloyd Harris klop Lorenzo Musetti met 6-4, 6-1, 7-6, 6-2 en 7-6

Stefanos Tsitsipas klop Quentin Halys met 6-3, 6-4 en 7-6

Felix Auger-Aliassime klop Vasek Pospisil met 1-6, 7-6, 7-6 en 6-3

Cameron Norrie klop Luca van Assche met 7-6, 6-0 en 6-3

Alex Molcan klop Stan Wawrinka met 6-7, 6-3, 1-6, 7-6 en 6-4

Rafael Nadal klop Jack Draper met 7-5, 2-6, 6-4 en 6-1

Hubert Hurkacz klop Pedro Martinez met 7-6, 6-2 en 6-2

Jannik Sinner klop Kyle Edmund met 6-4, 6-0 en 6-2

Madison Keys klop Anna Blinkova met 6-4, 3-6 en 6-2

Iga Swiatek klop Jule Niemeier met 6-4 en 7-5

Vivtoria Azarenka klop Sofia Kenin met 6-4 en 7-6

Maria Sakkari klop Yue Yuan met 6-1 en 6-4

Danielle Collins klop Anna Kalinskaya met 7-5, 5-7 en 6-4

Coco Gauff klop Katerina Siniakova met 6-1 en 6-4

Caroline Garcia klop Katherine Sebov met 6-3 en 6-0.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.