Roger bring steeds sy kant

 Roger Federer en Rafael Nadal. Foto: Twitter.

Roger Federer het die klere wat hy vir sy laaste wedstryd gedra het aan die Internasionale Tennisheldesaal geleen.

Dit word nou saam met ʼn getekende afskrif van sy amptelike uittrede-aankondiging in Rhode Island uitgestal.

“Ons is ongelooflik dankbaar jeens Roger vir hierdie goeie gebaar. Hy het beslis ʼn waardering vir ons doelwit om tennisgeskiedenis te bewaar,” het Todd Martin, uitvoerende hoof van die heldesaal, gesê.

Die 41-jarige Federer het in Augustus sy amptelike uittrede aangekondig nadat ʼn kniebesering hom vir ʼn geruime tyd langs die baan gehou het.

Sy Laverbeker-dubbelspelwedstryd saam met Rafael Nadal was sy laaste amptelike kragmeting op die internasionale verhoog.

Ja, “Fedal” het weliswaar in daardie wedstryd met 4-6, 7-6 en 11-9 teen die Wêreldspan se Jack Sock en Frances Tiafoe vasgeval, maar die aand het ongetwyfeld aan die Switserse meester behoort.

Vir meer as twee uur het die 41-jarige speler die horlosie teruggedraai – daar was sy majestueuse (want dit is inderdaad wat dit is) rughandhoue, toorkuns en die selfvertroue van ouds.

In ʼn neutedop is Roger Federer ʼn tennisspeler wat die sport net beter as enigiemand anders laat lyk.

Roger Federer het professionele tennis in Londen gegroet. Foto: Twitter.

Maar toe die gordyn uiteindelik op sy merkwaardige loopbaan sak, het die trane maar baie vlak in Londen se O2-arena gelê.

Met een laaste swaai van die raket was alles in ʼn oogwink verby. ʼn Emosionele Federer het vir Nadal omhels, na die skare gewaai en na sy stoel gestap; alles onder dawerende applous.

“Eintlik is ek bly en nie hartseer nie. Dit is wonderlik om hier te wees en ek het dit geniet om my tennisskoene vir oulaas aan te trek – dit voel asof ek alles vir ʼn laaste keer gedoen het. Dit was ʼn goeie wedstryd en ek kan nie gelukkiger wees nie,” het die Switserse legende gesê.

“Die afgelope 24 jaar se toerwedstryde was ʼn ongelooflike avontuur en soms voel dit of dit eintlik in 24 uur verby my geflits het. Ek het gelag, gehuil, vreugde en hartseer ervaar, maar bowenal het ek voluit geleef. Dankie, tennis, ek het jou lief.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.