Russell glimlag breed in Brasilië

George Russell het met die louere in Brasilië weggejaag. Foto: DPPI via AFP.

George Russell het vir die eerste keer in sy loopbaan ʼn F1-wedren gewen toe die geruite vlag gister vir hom in São Paulo geswaai is. Die jong Brit het Saterdag ook met die louere tydens die blitsren weggejaag.

“Dit is ʼn ongelooflike gevoel en ek wil die hele span vir hul insette bedank – sonder hulle sou hierdie oorwinning nie moontlik gewees het nie,” het Russell gesê.

Sy Mercedes-spanmaat, Lewis Hamilton, het tweede oor die wenstreep gejaag en die span is nou binne trefafstand van Ferrari op die vervaardigerspunteleer.

Volgens Russell was die ervare Hamilton – wat vanjaar nog nie ʼn wedren kon wen nie – ʼn krag waarmee daar rekening gehou moes word.

“Lewis was deksels vinnig en toe ek later sien dat ʼn veiligheidsmotor ʼn invloed op die wedren gaan hê, het ek geweet dat ek my storie sal moet ken om hom in toom te hou. Hy het my onder kwaai druk geplaas en ek is baie dankbaar dat ek uiteindelik kon wen.”

Mercedes se vertoning in Brasilië was hul beste spanpoging sedert 2020, toe Hamilton en Valtteri Bottas eerste en tweede in Italië klaargemaak het.

Dan het dinge nie so goed met Red Bull gegaan nie.

Beamptes het bevind dat Verstappen die skuldige party was nadat hy vroeg in die wedren swaarde met Hamilton gekruis het. Hy is met ʼn paar sekondes beboet en moes met ʼn uiteindelike sesde plek tevrede wees.

“Ek het probeer om hom aan sy buitekant verby te steek, maar ek het dadelik geweet dat hy nie vir my genoeg plek sal gee nie. Dit het hom heel waarskynlik van ʼn eerste plek beroof, terwyl ek met vyf sekondes beboet is,” het die Nederlander gesê.

Verstappen wou ook nie later in die wedren terugstaan sodat Sergio Perez meer punte kon verdien nie. Die Mexikaanse renjaer is in ʼn kwaai tweestryd met Charles Leclerc om die tweede plek op die jaerspunteleer gewikkel.

“Ek het met die span gesels en ek glo dat hulle begrip vir my optrede het – dit is goed om eerlik met mekaar te wees. Abu Dhabi is die volgende avontuur wat op ons wag en ons sal natuurlik probeer om die wedren te wen, maar as daar ʼn geleentheid is om vir Sergio te help, sal ek dit doen.”

Uitslae:

  1. George Russell (Mercedes)
  2. Lewis Hamilton (Mercedes)
  3. Carlos Sainz (Ferrari)
  4. Charles Leclerc (Ferrari)
  5. Ferando Alonso (Alpine)
  6. Max Verstappen (Red Bull)
  7. Sergio Perez (Red Bull)
  8. Esteban Ocon (Alpine)
  9. Valtteri Bottas (Alfa Romeo)
  10. Lance Stroll (Aston Martin)

Jaerspunteleer:

  1. Max Verstappen 429 punte
  2. Charles Leclerc 290 punte
  3. Sergio Perez 290 punte
  4. George Russell 265 punte
  5. Lewis Hamilton 240 punte
  6. Carlos Sainz 234 punte
  7. Lando Norris 113 punte
  8. Esteban Ocon 86 punte
  9. Fernando Alonso 81 punte
  10. Valtteri Bottas 49 punte

Vervaardigerspunteleer:

  1. Red Bull 719 punte
  2. Ferrari 524 punte
  3. Mercedes 505 punte
  4. Alpine 167 punte
  5. McLaren 148 punte.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Koos 100 ·

Skuus, en dan Ricardo, wat het jou besiel? Geen ren word in die eerste rondte gewen nie! Ek wil amper vra of Haas werklik vir julle kompetiesie is?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.