‘Rustiger’ Mick begin sy voete vind

Mick Schumacher. Foto: Twitter.

Ná ’n agtste en sesde plek in sy laaste twee wedrenne lyk dit of Mick Schumacher besig is om sy voete in die vinnige wêreld van F1 te vind.

Die seun van die legendariese Ferrari-renjaer Michael Schumacher het tans 12 punte op die jaerspunteleer en ontleders meen dat ’n rustiger benadering die rede vir sy onlangse sukses is.

Volgens Guenther Steiner, Haas-spanhoof, kon hy al tydens die Kanadese Grand Prix ’n verskil in die jong renjaer se houding gesien het.

“Dit was weliswaar nie die beste wedren vir hom nie omdat hy noodgedwonge die aftog moes plaas, maar hy het ontspanne voorgekom en dit het gelyk asof hy minder druk op homself plaas,” het Steiner gesê.

Die 23-jarige Duitser het boonop met die renjaer van die dag- toekenning by die afgelope Oostenrykse Grand Prix weggestap nadat hy beter as meer gesoute renjaers – onder wie Daniel Ricciardo en Fernando Alonso – gevaar het.

En nadat die Haas-renmotor in die verlede eerder met ’n skilpad vergelyk kon word, is Schumacher deesdae tevrede met sy vuurwa se vertoning.

“In die geheel het ons dalk nog nie ’n groot sprong vorentoe gegee nie, maar die motor is ongetwyfeld baie meer bestendig. Terselfdertyd glo ek ook dat die baan in Oostenryk ons goed gepas het,” het Schumacher gesê.

Benewens sy indrukwekkende stamboom brand die ambisievlam ook helder in hom.

Toe Lewis Hamilton in 2020 sy pa se rekord van 91 loopbaanoorwinnings geëwenaar het, het die jong Schumacher ’n kragtige boodskap vir die Mercedes-renjaer gereed gehad.

“Ek dink Lewis het ’n baie goeie lopie gehad, maar my pa het altyd gesê dat rekords opgestel word sodat hulle weer verbeter kan word.”

Intussen wag daar nog hope aksie op F1-liefhebbers. Die volgende wedren is op 24 Julie in Frankryk, waarna die aksie na Hongarye sal skuif.

Bepalings:

24 Julie in Frankryk

31 Julie in Hongarye

28 Augustus in België

4 September in Nederland

11 September in Italië

2 Oktober in Singapoer

9 Oktober in Japan

23 Oktober in die VSA

30 Oktober in Mexiko

13 November in Brasilië

20 November in Abu Dhabi

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.