SA skitter by Spesiale Olimpiese Spele

Cornelia Fowler
(Foto: Tilo Wiedensohler)

Suid-Afrika se span vir die pas afgelope Spesiale Olimpiese Spele wat in Berlyn plaasgevind het, het Dinsdag met hul terugkeer ʼn helde-ontvangs gekry.

Die span het 49 medaljes ingeoes tydens die spele wat van 17 tot 25 Junie plaasgevind het. Dit sluit in 22 goue medaljes, 20 silwer- en sewe bronsmedaljes.

Suid-Afrika se atlete het teen meer as 7 000 atlete van meer as 180 lande deelgeneem in agt verskillende sportsoorte, naamlik atletiek, swem, basketbal, boccia, sokker, futsal-sokker, netbal, tafeltennis en kegelbal.

Die span is Dinsdag deur ondersteuners en verteenwoordigers van die departement van sport, kuns en kultuur op die OR Tambo-lughawe ontvang.

Kamogelo Moncho het goud gewen in die 5 000 m (Foto: Marvin Ibo Guengoer)

Die Suid-Afrikaanse span het uit 64 atlete en 21 afrigters bestaan. Daar is veral in die swem-items uitgeblink. Jennifer Higgins het ʼn goue en silwermedalje losgeswem, terwyl Bronwyn Ramathula en Cornelia Fowler ook goud gewen het. Ramathula en Fowler het ook onderskeidelik brons- en silwermedaljes gewen.

Selton Miggels en Neil van Niekerk het onderskeidelik goue en silwermedaljes vir gholf ontvang, terwyl Innocentia Msikinya goue en silwermedaljes in tafeltennis verower het. Puleng Gabamoele het silwer en brons in die tafeltennis gewen terwyl Thato Mohlala twee bronsmedaljes losgeslaan het.

Suid-Afrika se mansokkerspan het goud gewen terwyl die mansbasketbalspan silwer gewen het. Robin Morrison het ʼn silwermedalje ingepalm vir ruiterkuns terwyl Wynand Swanepoel silwer gewen het vir bocce (’n Italiaanse rolbalspel soortgelyk aan rolbal).

Innocentia Msikinya (Foto: Marvin Ibo Guengoer)

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.