SA’ners laat die Tour de France-speke sing

Louis Meintjes op volle vaart. Foto: Marco Bertorello/AFP.

Bon dieu, mais ces Sud-Africains peuvent pédaler sur un vélo.

Dít, geagte leser, is Google se vertaling vir “goeiste, maar daardie Suid-Afrikaners kan ’n fiets trap”; ’n stelling wat – danksy Louis Meintjes en Ashleigh Moolman-Pasio se puik Tour de France-vertonings – seker taamlik gereeld in Frankryk gehoor word.

Meintjes het algeheel agtste in die Tour de France geëindig, terwyl Moolman-Pasio gister se skof van die Tour de France vir vroue in die derde plek afgesluit het – sy tel nou onder die algehele topvyf van dié ikoniese Europese padfiets-avontuur.

Die 36-jarige Suid-Afrikaner sorg deesdae vir vuurwarm vertonings. Sy was in die aanloop tot die Tour de France onder meer derde in die Strade Bianche-wedren, terwyl sy ook onder die topvyfdeelnemers in ander Belgiese wedrenne getel het.

Dan kan ’n mens beslis Meintjies se trapprestasies vier.

Dit is die derde keer dat die talentvolle fietsryer die Tour de France in die agtste plek afsluit. Hy het dieselfde prestasie in 2016 (hy was daardie jaar ook sewende by die Olimpiese Spele) en in 2017 vermag.

Benewens sy barshou-trapsessie by die Tour de France het hy onder meer die Giro dell’Appennino gewen, terwyl hy die Giro di Sicilia in die derde plek afgesluit het.

Meintjes ry vir die span Intermarché-Wanty-Gobert Matériaux – een van die nuwer spanne op die Europese fietsryverhoog. Daarteenoor kan fietsryers soos Jonas Vingegaard en Geraint Thomas waarskynlik op sterker spanlede steun om hulle aan te vuur.

Maar om vir amper elke dag vir drie weke op jou beste teen gesoute teenstanders te wees verg nie net hope konsentrasie nie, maar ook hope talent en deursettingsvermoë.

Eienskappe waaroor Louis Meintjes ongetwyfeld beskik.

Finale stand van sake (Tour de France – mans):

  1. Jonas Vingegaard
  2. Tadej Pogacar
  3. Geraint Thomas
  4. David Gaudu
  5. Aleksandr Vlasov
  6. Nairo Quintana
  7. Romain Bardet
  8. Louis Meintjes
  9. Alexey Lutsenko
  10. Adam Yates

Uitslag van derde skof (Tour de France – vroue):

  1. Cecilie Uttrup Ludwig
  2. Marianne Vos
  3. Ashleigh Moolman-Pasio
  4. Silvia Persico
  5. Elisa Longo Borghini

Algehele stand van sake (Tour de France – vroue):

  1. Marianne Vos
  2. Silvia Persico
  3. Katarzyna Niewiadoma
  4. Elisa Longo Borghini
  5. Ashleigh Moolman-Pasio.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.