Schoeman wil slag in swembad wys

Roland Schoeman. (Argieffoto: Kazhuriro Nogi/AFP)

Hy mag dalk in Julie sy 43ste verjaardag vier, maar Roland Schoeman het sy naam in die hoed by die Suid-Afrikaanse Swemkampioenskap in Gqeberha gegooi.

Die swemmer wat al goud, silwer en brons by die Olimpiese Spele gesmaak het, sal nou by die wegspringblok in die 50 m- en 100 m-vryslagitem aantree, terwyl hy ook sal probeer om sy stempel in die 50 m-vlinderslagitem af te druk.

Schoeman was uiteindelik by vier agtereenvolgende Spele (2000, 2004, 2008 en 2012) in aksie, terwyl hy ook met ’n rits Suid-Afrikaanse én ’n paar wêreldrekords gespog het.

Nodeloos om te sê sal sy teenwoordigheid in Gqeberha vir ʼn bietjie bykomende woema sorg en Chad le Clos sien uit na sy deelname.

“Ek dink dit gaan opwindend wees. Dit is baie goed dat Roland terug is; dit is eintlik ongelooflik dat hy nog deelneem en ek dink hy gaan homself goed van sy taak kwyt,” het Le Clos gesê.

Natuurlik sal die kollig ook op Pieter Coetzé en Lara van Niekerk val.

Lara van Niekerk poseer met die goue medalje wat sy tydens die vroue 50 m-borsslag by die Statebondspele gewen het. (Foto: Andy Buchanan / AFP)

Dié twee jong swemsterre het verlede jaar amok by die Statebondspele in Birmingham gemaak en hulle is onlangs as Suid-Afrika se sportman en -vrou van die jaar aangewys.

“Dit sal wonderlik wees om die nasionale titel in te oes, maar ek wil eerder op my resiesstrategie konsentreer en dit na die beste van my vermoë uitvoer,” het Van Niekerk gesê.

Dan sal Coetzé in ses items sy slag wil wys.

Hy sal onder meer in ’n spul rugslagitems (50 m, 100 m en 200 m) in aksie wees, terwyl hy ook sy stempel in die vryslag (50 m en 100 m) en vlinderslag (50 m) wil afdruk.

Die nasionale kampioenskap word van 12 tot 16 April beslis.

Van Schoeman se prestasies:

  • Langbadrekords:

50 m-vryslag: 21.67 s in Beijing 2008 en weer in Barcelona 2013 (nasionale rekord)

100 m-vryslag: 48.17 s in Athene 2004 (vorige SA rekord)

50 m-vlinderslag: 22.90 s in Rome 2009 (vorige wêreldrekord)

4×100 m-vryslag: 3:11.93 min in Rome 2009 (vorige wêreldrekord)

  • Kortbadrekords:

50 m-vryslag: 20.30 s in Pietermaritzburg 2009 (vorige wêreldrekord)

100 m-vryslag: 46.25 s in Berlyn 2005 (vorige wêreldrekord)

100 m individuele wisselslag: 52.20 s in Hamburg 2006 (vorige wêreldrekord)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.