Schoenmaker skitter ook in 200 m

Tatjana Schoenmaker. (Foto: Anton Geyser/Gallo Images/Argieffoto)

Tatjana Schoenmaker was weer soos ʼn vis in die water by die nasionale kampioenskap in Gqeberha toe sy die 200 m-borsslagitem in ʼn tyd van 2:22:44 gewen het.

Haar oefenmaat, Kaylene Corbett, was tweede met haar tyd van 2:25:40; al twee swemmers het vir die komende Wêreldkampioenskap in Japan gekwalifiseer.

Die toeskouers het die swemmers luidkeels aangemoedig en volgens Schoenmaker het sy aanvanklik gedink dat sy binne trefafstand van haar eie wêreldrekordtyd (2:18:95) in die item was.

“Ek het natuurlik gehoop om ʼn vinniger tyd te swem. Ek dink die toeskouers se opwinding het omtrent met my kop gesmokkel en ek het aangeneem dat ek op koers is (om ʼn blitsige tyd te swem). Ek is egter baie in my noppies met my tyd van 2:22,” het sy na afloop van haar eindlopie gesê.

Schoenmaker het vroeër ook die 100 m-borsslagitem gewen.

Dan het Chad le Clos die septer in die 100 m-vryslag geswaai toe hy met ʼn tyd van 48.97 s gewen het.

“As ek meer mededingend op die internasionale verhoog wil wees, sal ek die afstand in minder as 48 sekondes moet voltooi. Daar lê nog harde werk voor, maar glo dat ek weer vir ʼn opskudding of twee by die Spele kan sorg,” het hy gesê.

Die opwindende Pieter Coetzé (49.19) en Matthew Sates (49.20) was onderskeidelik tweede en derde in die item.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.