Serena maak nog ʼn U-draai oor uittrede

Serena Williams. Foto: Elsa/Getty Images/AFP.

Ná al die fanfare by vanjaar se Amerikaanse Ope, lyk dit of Serena Williams dalk nog nie klaar is met mededingende tenniswedstryde nie.

Die 41-jarige voormalige wêreldnommereenspeler het vroeër aangedui dat sy stelselmatig van die sport wil wegbeweeg en die organiseerders van die laaste Grand Slam-toernooi van die jaar in New York het omtrent die rooi tapyt vir haar uitgerol.

“Ek is nie uitgetree nie. Die moontlikheid van ʼn terugkeer tot die baan is baie groot,” het Williams vandeesweek gesê.

Hoewel sy in dieselfde asem geskerts het dat sy van die baan by haar huis gepraat het, kan die spreekwoord – “waar daar ʼn rokie trek, is daar ʼn vuurtjie” – hier van toepassing wees.

Sy het immers ná haar nederlaag teen Ajla Tomljanović in die Amerikaanse Ope die deur ’n skrefie oopgelaat vir nog ’n wedstryd by nog ’n toernooi.

“Ek was nog altyd baie lief vir Australië,” het sy destyds te midde van die klinkende simbale, beeldpoetsende kletsrymers en tranerige ondersteuners in New York gesê.

Tog het sy vir Roger Federer by die “uittredeklub” verwelkom toe die Switserse meester in September besluit het om sy raket weg te bêre, terwyl Michelle Obama (voormalige Amerikaanse presidentsvrou) haar lof oor ʼn ongelooflike loopbaan besing het.

“Om eerlik te wees, ek het nog nie eintlik oor uittrede gedink nie. Ek het wel nou die ander dag wakker geword en besef dat ek vir die eerste keer in my lewe nie vir ʼn toernooi voorberei nie. En dit het baie vreemd gevoel.

“Dit is die begin van die res van my lewe en ek geniet dit, maar tog sukkel ek om die perfekte balans te vind.”

Volgens berigte sal Williams in alle waarskynlik nie meer voltyds deel van WTA-toeraksie wees nie, maar sy kan nog haar raket as promotorskeuse by ’n Grand Slam-toernooi swaai.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Fran ·

Omdat sy tantrums gooi as sy verloor en sy dink sy is net die madam. Swak sportvrou.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.