Spanhoofde se F1-stoeledans

Daniel Ricciardo en Andreas Seidl. Foto: Antonin Vincent/DPPI via AFP.

Vergeet maar vir eers van daardie uitskakelspeletjie wat senuweeagtige deelnemers, ʼn paar stoele en musiek behels; dit is veel interessanter om die avonture van F1-spanbase dop te hou.

Fred Vasseur sal onder meer Mattia Binotto se spanhoofskoene by Ferrari volstaan, terwyl daar ook grootskaalse veranderinge by Williams en McLaren plaasgevind het.

Met sy sewe bestuurder- en nege vervaardigerstitels is Williams een van die suksesvolste spanne in F1-geskiedenis. Maar deesdae swaai hy gereeld die houtlepel op die amptelike punteleer rond.

Die span het die jaar in die tiende plek op die vervaardigerspunteleer afgesluit, terwyl Alex Albon en Nicholas Latifi ook nie veel beter agter die stuur van hul renmotors gevaar het nie.

Williams het vandeesweek aangekondig dat sy paadjies met Jost Capito (spanhoof) en Francois-Xavier Demaison (tegniese hoof) sal skei.

Die 64-jarige Capito is ʼn Duitse motorsportlegende, met meer as 40 jaar ervaring agter sy naam.

“Dit was ʼn groot voorreg om aan die stuur van Williams Racing vir die afgelope twee seisoene te wees en om die grondslag vir die span se ommekeer op die renbaan te lê. Ek sien uit om hul vordering op die pad na sukses te volg,” het Capito gesê.

Albon het intussen hulde aan die Duitser gebring en hom onder meer as ʼn vriend beskryf.

“Ons het nog net ʼn jaar saamgewerk, maar baie dankie vir al jou vertroue en ondersteuning. Ek wens jou alles van die beste toe,” het die renjaer getwiet.

Williams het in ʼn verklaring geskryf dat ʼn nuwe spanhoof en tegniese direkteur binnekort aangekondig sal word.

By McLaren word daar ook nie stilgesit nie met Andreas Seidl wat sy spanhooftasse vir Sauber gepak het om Audi se F1-buiging in 2026 te fasiliteer.

Seidl en Lando Norris se McLaren-paaie het al twee in 2019 begin en die Britse renjaer het dit geniet om saam met die 46-jarige Duitser te werk.

“Ek het nog nooit ons span so sterk gesien as wat dit tans is nie en dit is grotendeels aan harde werk te danke. Baie sterkte met jou nuwe pligte,” het Norris getwiet.

McLaren het intussen bevestig dat Andrea Stella die spanhoofleisels by Seidl sal oorvat. Die Italianer is al sedert 2015 deel van die opset nadat hy vantevore saam met Michael Schumacher by Ferrari gewerk het.

“Ek is baie opgewonde oor Andrea se aanstelling. Hy is baie talentvol, ervare en ʼn gerespekteerde lid van ons span en ek sien daarna uit om meer saam met hom te werk,” het Zak Brown, McLaren se uitvoerende hoof, gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Groen Ghoen ·

Wonderlik! Mag Audi dadelik groot sukses behaal. EBM! (Enigiemand Behalwe Mercedes!).

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.