Spesiale huldeblyk vir Federer by Wimbledon

Roger Federer. (Foto: Fabrice Coffrini/AFP)

Roger Federer se uitnemende prestasies as een van die beste tennisspelers nog sal Dinsdag op die tweede dag van die Wimbledon-toernooi gevier word.

Die tennisster se glorieryke loopbaan sal op die hoofbaan van die All England-klub met ʼn spesiale seremonie gevier word.

Die agtmalige Wimbledon-kampioen sal die geleentheid kry om te besin oor sommige van sy grootste mylpale en oorwinnings nadat hy in September sy uittrede aangekondig het.

“Ek is verheug om te sê dat Roger môre saam met ons gaan wees sodat ons hom kan vereer as die man met die meeste enkelspeltitels by Wimbledon,” sê Sally Bolton, uitvoerende hoof van die All England-klub.

“Ons sal net ʼn oomblik hê om sy prestasies te vier en dankie te sê vir al die herinneringe voor die dag se wedstryde afskop.”

Die 41-jarige Federer was ietwat uit die kollig sedert hy verlede jaar vir oulaas in ʼn Laverbeker-dubbelspelwedstryd gespeel het. Verlede maand is hy ook by Halle in Duitsland vir sy bydrae tot die spel vereer.

Volgens Bolton is Serena Williams (41) ook na die geleentheid genooi. Sy kon egter nie die verrigtinge bywoon nie. Williams het haar laaste wedstryd by die Amerikaanse Ope gespeel.

“Ons het Serena vir dieselfde soort geleentheid genooi, maar weens haar swangerskap kon sy om verstaanbare redes nie reis nie.”

Hoewel hy tans nog die rekord vir die meeste Wimbledon-titels hou, kan Novak Djokovic dalk nog dié rekord ewenaar en sy 24ste Grand Slam-titel verseker.

Djokovic en Pedro Cachín kom Maandagmiddag in die eerste ronde van die toernooi teen mekaar te staan.

Die finale wedstryd word op 16 Julie gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Suzette ·

Hy is by verre my gunsteling tennisspeler van alle tye. Altyd ordentlik, respekvol en met goeie sportman gees.

George ·

hy het baie vroeg in sy loopbaan die temper tantrums onder beheer gekry. Hy is die GOAT, maak nie saak wat die “rekords” se nie. Hy is soos Schumacher, daar kan “beter” wees, maar hy sal altyd die GOAT bly.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.