Swemmer (blind én doof) onttrek aan Spele omdat ma nie kan saam

Die talentvolle Becca Meyers saam met haar gidshond. Foto: Twitter.

Becca Meyers, ’n Amerikaanse swemmer, het haar aan die Paralimpiese Spele in Tokio onttrek omdat die Amerikaanse Olimpiese en Paralimpiese beheerliggaam (USOPC) geweier het dat haar ma haar na die internasionale skouspel vergesel.

Volgens die 26-jarige swemmer dien haar ma sedert 2017 as haar assistent by verskeie internasionale byeenkomste.

“Ek het die moeilike besluit geneem om my aan die 2020-Spele [nou in 2021] te onttrek. Ek is kwaad en teleurgesteld, maar die hartseerste omdat ek nie my land kan verteenwoordig nie,” het sy op sosiale media gedeel.

Meyers, wat drie goue medaljes vyf jaar gelede in Rio de Janeiro ingeoes het, voer aan dat die USOPC herhaaldelik haar versoek van die hand gewys het om ’n betroubare assistent saam met haar na die Spele te neem.

“Daar is vir my gesê dat ek nie so ’n assistent benodig nie omdat iemand reeds saamgaan wat na die belange van my en 33 ander Paralimpiese swemmers (onder wie nege blinde deelnemers) kan omsien.”

Volgens Meyers verstaan sy dat die wêreldwye Covid-19-pandemie ’n groot rol in die USOPC se besluit gespeel het, maar dit is noodsaaklik dat sy iemand by haar het op wie sy kan staatmaak.

“Waarom moet ’n gestremde persoon in 2021 steeds vir sy of haar regte baklei? Ek skryf dít ook vir toekomstige Paralimpiese atlete sodat hulle nie dieselfde hartseer moet ervaar nie.”

Volgens CNN is Meyers doof gebore, terwyl ’n oogsiekte beteken dat sy geleidelik al hoe swakker begin sien het.

Lede van die Amerikaanse senaat het die voorval as “belaglik” bestempel en die USOPC versoek om dit onmiddellik reg te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

isabelle ·

sy lyk pragtig *ongelukkig kan ons moeders nie altyd als saam ons doen of altyd daar wees nie
al nodig ons hulle hoe erg
ook sommer hartseer vir die talentvolle vrou

cynthia ·

arme vrou kry haar regtig jammer. mense kan so wreed wees

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.