Tennissensasie Carlos is terug op baan

Carlos Alcaraz besig om vir die Argentynse Ope in Buenos Aires voor te berei. Foto: Luis Robayo/AFP.

Carlos Alcaraz speel môre sy eerste wedstryd van die nuwe jaar wanneer hy teen Laslo Djere in Buenos Aires te staan kom.

ʼn Ontydige maagspierbesering het sy 2022-seisoen net vóór die ATP-eindtoernooi kortgeknip en hy moes magteloos toekyk hoe Novak Djokovic die een toernooi na die ander in sy afwesigheid wen.

Die Serwiese ster het boonop ook met sy oorwinning in die Australiese Ope hom as die wêreld se voorste speler onttroon.

Vergeet egter van ʼn gestamel en gestotter: Die jong Spanjaard wil so spoedig moontlik weer op alle suiers vuur.

“Dit is vier maande sedert ek die besering opgedoen het. Oudergewoonte dink ek nie net daaraan om wedstryde te wen nie, maar ook om hulle góéd te wen. Ek is egter deeglik bewus van die feit dat dit glad nie ʼn maklike storie sal wees nie; veral nadat ek so lank op die krukkelys was,” het Alcaraz gesê.

Die 19-jarige speler het op 12 September verlede jaar die jongste speler ooit geword om eerste op die ATP-ranglys te staan en hoewel hy trots is op sy merkwaardige prestasie, meen hy dat hy nog nie ʼn afgeronde speler is nie.

“Ja, 2022 was ʼn baie goeie jaar vir my. Ek het onder meer my doelwit bereik [om die wêreld se voorste speler te word], maar dit is ook belangrik om ander doelwitte vir jouself te stel. Ek is nog jonk en ek wil graag beter speel; daarom moet ek aanhou oefen en vorentoe kyk.”

Hy erken dat sy skielike sterstatus hom onkant betrap het.

“Ek is nou ʼn bietjie meer gewoond daaraan en teen die tyd weet ek wie ek is en wat ek nog wil bereik.”

Djokovic het vroeër die jong Spanjaard ook uitgesonder as een van sy gunstelingspelers om Grand Slam-titels te wen.

“Carlos is ’n spesiale speler. As ’n tiener het hy reeds ’n spul rekords verbeter, terwyl hy ook al ’n hele paar belangrike titels agter sy naam het.”

Ja-nee, in Carlos Alcaraz het die Spaanse tennis-armada beslis ʼn kragtige wapen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Treurwilger ·

Alcaraz is vreesaanjaend goed, my broek bewe vir Novak se part, maar een of ander tyd moet die nuwe geslag oorvat.
Net nie nou al nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.