Tsitsipas: Griekse tennisprins van Monaco

Stefanos Tsitsipas spog weer met die silwerware in Monaco. (Foto: X/ATP Tour)

Stefanos Tsitsipas het vir die derde keer die afgelope vier jaar die silwerware ná afloop van die Monte Carlo-meesterstoernooi omhoog gehou.

Die Griek het vir Casper Ruud in die eindstryd met 6-1 en 6-4 geklop.

Tsitsipas het met oorgawe gespeel, terwyl hy sy teenstander op die agtervoet met ʼn paar aggressiewe voorhandhoue geplaas het.

“Dit was ʼn moeilike pad om tot hier te kom en dit voel ongelooflik om weer ʼn toernooi te wen. Die derde oorwinning is selfs meer spesiaal as die eerste twee en ek is baie tevrede,” het hy gesê.

Die 25-jarige speler kon vóór die Monaco-toernooi nog net 11 wedstryde vanjaar wen terwyl hy ses keer aan die verloorkant was.

Hy het oudergewoonte weer sy beste spelpeil in Monte Carlo herwin waar hy onder andere met Andrey Rublev en Jannik Sinner klaargespeel het.

“Ek is bly dat ek vir ʼn slag weer onverskrokke spel kon opdis. Ek kon van die eerste afslaan tot die laaste wenhou goeie tennis speel en ek is ook tevrede met die verskeidenheid houe wat ek geslaan het.”

Op sy beurt is Ruud ook in sy skik met sy vertoning in Monte Carlo waar hy vir Novak Djokovic in die halfeindstryd uitgeskakel het.

“Ek het ʼn paar tree in die regte rigting gegee, selfs al het die eindstryd nie heeltemal volgens plan verloop nie. Om ʼn speler van Novak se kaliber te klop is ʼn uitstekende oorwinning en hopelik sal dit my selfvertroue ʼn hupstoot gee,” het die Noorse ster gesê.

Alcaraz sal nie in Barcelona afslaan

Intussen het Carlos Alcaraz hom aan die Barcelona-ope onttrek omdat hy nie voldoende van sy regterarmbesering herstel het nie.

Die besering het hom ook uit Monte Carlo gehou en hy hoop om sy kleibaanseisoen in Madrid te begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.