Vingegaard wil weer wen ná Tour de France-triomf

Jonas Vingegaard is die Tour de France-wenner. (Foto: Twitter/Tour de France)

Die Arc de Triomphe in die Champs-Élysées is destyds in opdrag van Napoleon Bonaparte gebou om sy oorwinning in die Slag van Austerlitz te herdenk.

Maar as dinge so aanhou, sal die organiseerders van die Tour de France binnekort ook ’n soortgelyke triomfboog vir Jonas Vingegaard in Parys moet oprig.

Die 26-jarige Deen het vir die tweede jaar op ’n streep met die Tour de France-louere weggejaag en hy is beslis honger vir nog meer sukses.

“Dit was ’n lang en moeilike avontuur, maar ek is trots en gelukkig. Dit is ongelooflik om ’n tweede triomf saam met al die Deense ondersteuners hier te vier. Ek sal graag wil terugkom en probeer om met ’n soortgelyke vertoning vorendag te kom,” het Vingegaard gesê.

Tadej Pogacar en Adem Yates het saam met hom op die podium gestaan.

“Ek moes vir hierdie oorwinning baklei en ek het my tweestryd met Pogacar en Yates geniet, maar ek sien nou net baie daarna uit om saam met my gesin te ontspan.”

Vingegaard het ʼn uiteindelike voorsprong van 7:29 min geniet. Dit is die beste vertoning sedert Vincenzo Nibali in 2014 die moordende skofwedren met 7:39 min gewen het.

Jordi Meeus het die finale skof gewen en hy is in sy noppies met sy vertoning in die pylvak van die wedren.

“Dit was ʼn wonderlike eindpoging. Dit was inderdaad ʼn topgehalte wedren,” het hy glimlaggend gesê.

Maar Vingegaard verdien ongetwyfeld ʼn glasie vonkelwyn of twee.

“Die Tour de France is die beste fietswedren in die wêreld. Ek sal volgende jaar weer terug op my pos wees.”

Finale uitslae:

  1. Jonas Vingegaard: 82:05:42
  2. Tadej Pogacar: 82:13:11
  3. Adam Yates: 82:16:38.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.