Wêreldbeker wink vir SA vroue by binnenshuise hokkietoernooi

AJ Spieringshoek is aan stuur van die nasionale span se afrigting. (Foto: Instragram / AJ Spieringshoek)

Die Suid-Afrikaanse binnenshuise hokkiespan vir vroue is vol vertroue dat hulle vir die Wêreldbeker in 2025 in Kroasië gaan kwalifiseer. Maar eers het die span sy visier op die Afrika-nasiesbeker wat as kwalifiseringstoernooi hiervoor dien. Die toernooi word aan die einde van Mei in Swakopmund in Namibië beslis.

Die top twee spanne ná afloop van die toernooi bespreek hul kaartjies vir die Wêreldbeker.

Hokkie Suid-Afrika (HSA) het Woensdag die span vir die toernooi in Swakopmund bekendgemaak. Tussen hulle het die groep van 12 spelers altesaam 518 binnenshuise toetswedstryde op hul naam.

AJ Spieringshoek is aan stuur van die nasionale span se afrigting. Spieringshoek is in 2023 as hoofafrigter aangewys nadat hy reeds sedert 2019 as assistentafrigter by die nasionale span betrokke is.

Jessica Lardant in aksie. (Foto: Anton Geyser)

Jamie Southgate, een van die span se mees gesoute spelers, het in 2018 haar debuut vir Suid-Afrika gemaak. Haar vaardighede en leierskap sal deurslaggewend vir die span wees. Southgate kort net agt wedstryde voor sy in haar 100ste wedstryd vir die Groen-en-goud uitdraf.

Tegan Fourie en Malikah Hamza word albei vir hul gehaltespel erken. Fourie het die toekenning as SA Hokkie- binnenshuise speler én opkomende speler van 2023 opgeraap. Daniella de Oliveira is as die interprovinsiale binnenshuise hokkiespeler van die toernooi aangewys.

Daniella de Oliveira. (Foto: Anton Geyser)

Die formidabele doelwagter, Sarah Paget, was in besonderse vorm oor die afgelope paar jaar. Paget is ná afloop van verlede jaar se interprovinsiale toernooi as die topdoelwagter aangewys. Sy het Suid-Gauteng verteenwoordig.

Suid-Afrika het die vierde plek by verlede jaar se Wêreldbeker in Pretoria behaal nadat die span met 3-1 teen die Tsjeggiese Republiek verloor het.

Agt spelers was in hierdie kragmeting in aksie en het ervaring van onskatbare waarde op die wêreldverhoog opgedoen. Die span is gerat om sy kundigheid te benut om weer vir volgende jaar se toernooi in Kroasië te kwalifiseer.

Terwyl die opwinding toeneem vir die komende Afrika-nasiesbeker, is die Suid-Afrikaanse vrouespan slaggereed om hul bekwaamheid en vasberadenheid ten toon te stel, met die doel om hul status as kampioene van die vasteland te herwin en hul deurgang na die gesogte Wêreldbeker-toernooi te verseker.

Só lyk die span (wedstryde in hakies):

Caylin den Bakker (11), Cheree Greyvenstein (70), Daniella Mendes de Oliveira (37), Edith Molikoe (69), Jamie Southgate (92), Jessica Lardant (63), Kayla de Waal (50), Laikén Brisset (23), Laylaa Davids (5), Malikah Hamza (17), Sarah Paget (12) en Tegan Fourie (68).

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.