Williams kry hou in ná Halep-skorsing

Simona Halep van Roemenië (links) en die Amerikaner Serena Williams. (Foto: AP Photo/Tim Ireland)

Serena Williams het sewe Wimbledon-titels agter haar naam, maar in 2019 het sy sleg tweede teen Simona Halep gekom.

Die Roemeense speler het toe ʼn eensydige stryd met 6-2 en 6-2 gewen om met die louere op die ikoniese grasbaantoernooi weg te stap.

Die kragmeting het net 55 minute geduur. Die uiteindelike kampioen was briljant en het net drie ongedwonge foute teenoor Williams se 25 begaan.

Maar Halep is vandeesweek vir die gebruik van verbode middels geskors en Williams het nie op haar laat wag om ʼn hou op sosiale media in te kry nie.

“Agt is ʼn beter  getal,” het die 41-jarige Amerikaner getwiet; ʼn duidelike verwysing na die 2019-eindstryd toe Halep haar van ʼn agtste Wimbledon-titel weerhou het.

Williams het in September verlede jaar die laaste mededingende wedstryd van haar loopbaan gespeel toe sy teen Australië se Ajla Tomljanović in die derde ronde van die Amerikaanse Ope verloor het.

Sy het haar laaste Grand Slam-titel in 2017 ingeoes en sy hou seker duim vas dat Halep van haar Wimbledon-titel gestroop word.

Intussen het die 31-jarige Roemeen ten sterkste ontken dat sy die middel (Roxadustat) bewustelik geneem het. Sy voer aan dat besmette aanvullings die rede vir die positiewe toets is.

Sy het bygevoeg dat sy aanhou oefen en alles in haar vermoë doen om nie net haar naam in ere te herstel nie, maar ook ʼn spoedige terugkeer tot die baan te maak.

“Ek het my lewe aan tennis gewy en ek neem die sport se reëls en regulasies baie ernstig op. Terselfdertyd is ek trots op die feit dat ek nooit doelbewus enige verbode middel gebruik het nie. Ek weier om die vierjaarskorsing te aanvaar.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Kobus ·

” net drie ongedwonge foute teenoor Williams se 25″ Geen middel kan foute elimineer me Williams. Jy was net nie opgewasse teen haar nie.

Kaboesie ·

Serena moet liewer stilbly. Sy is n man wat teen vrouens gespeel het. Ek wonder of haar toetse skoon sou wees.

Susan ·

Serena Williams en Novak Djocovic is nie my gunsteling persoonlikhede nie. Suur druiwe inderdaad.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.