Wimbledon: Alcaraz, Rybakina seëvier  

Carlos Alcaraz (Foto: Antoine Couvercelle/DPPI via AFP)

Die wêreld se no. 1-tennisspeler, Carlos Alcaraz, en die verdedigende vrouekampioen, Elena Rybakina, het hul eerste Wimbledon-wedstryde gewen terwyl reën groot ontwrigting veroorsaak het.

Slegs ʼn uur se spel was op die buitebane moontlik, wat tot gevolg gehad het dat tientalle wedstryde nie afgehandel kon word nie. Wedstryde op die hoofbaan en baan 1 kon voortgaan aangesien albei bane dakke het.

Alcaraz het binne net 22 minute deur die eerste stel teen die Franse veteraan Jeremy Chardy gejaag om uiteindelik ʼn oorwinning van 6-0, 6-2, 7-5 te beklink.

Die Amerikaanse Ope-kampioen word gesien as een van die min geloofwaardige bedreigings vir Novak Djokovic, wat ʼn agtste Wimbledon-titel teiken om Roger Federer se rekord te ewenaar.

Kazakstan se Elena Rybakina (Foto: Sebastien Bozon/AFP)

Rybakina het die Amerikaner Shelby Rogers met 4-6, 6-1, 6-2 geklop.

“Dit was baie moeilik vir my vandag,” het Rybakina gesê. “Ek was redelik senuweeagtig, en ek kan dit nie eens wegsteek nie. Die dubbelfout het alles aan die begin van die wedstryd gesê. Ek is baie bly om by nog ʼn ronde uit te kom.”

Die tweemalige kampioen Andy Murray het sy landgenoot Ryan Peniston in skoon stelle afgestof.

Murray, wat sy eerste Wimbledon-titel in 2013 gewen het voordat hy drie jaar later ʼn tweede bygevoeg het, het met 6-3, 6-0, 6-1 geseëvier.

Aryna Sabalenka, die wêreld se no. 2-speler en die Australiese Ope-kampioen, het Panna Udvardy van Hongarye met 6-3, 6-1 geklop.

Ons Jabeur, die 2022-naaswenner, het ʼn 6-3, 6-3- oorwinning oor Magdalena Frech van Pole behaal.

Wedstryde om vandag dop te hou

Djokovic kom Woensdag teen die Australiër Jordan Thompson te staan. Djokovic is sedert 2017 onoorwonne op Wimbledon.

Met vier Grand Slam-titels agter haar naam, insluitend vanjaar se Franse Ope, is Iga Swiatek een van die voorste aanspraakmakers op vanjaar se titel. Die 22-jarige het verlede jaar by Wimbledon aangekom nadat sy die Franse Ope gewen het, net om ʼn teleurstellende nederlaag in die derde ronde teen Alize Cornet te ly.

Swiatek speel Woensdag teen Spanje se Sara Sorribes Tormo.

Jannik Sinner, wat nog nie verby die kwarteindronde van ʼn Grand Slam gevorder het nie, het Juan Manuel Cerundolo in Maandag se eerste ronde met 6-2, 6-2, 6-2 verpletter. Die agtste gekeurde Italianer kom Woensdag teen die Argentynse Diego Schwartzman te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.