Wimbledon: Murray steeds voor; Broady maak skoonskip

Andy Murray in aksie (Foto: Tetsu Joko/AFP)

Andy Murray sal vandag (Vrydag) sy Wimbledon-wedstryd teen Stefanos Tsitsipas moet hervat nadat die wedstryd gister kortgeknip is weens die All England Club se aandklokreël om 23:00.

Die 36-jarige Britse tweemalige kampioen het die eerste stel verloor, maar daarna die wedstryd omgeswaai om met 6-7, 7-6 en 6-4 voor te loop.

Die wedstryd se einde het op die regte oomblik vir Murray gekom toe hy geval en sy linkerlies beseer het, wat hom van pyn laat skree het.

Hy het egter opgestaan om die derde stel te speel.

Stefanos Tsitsipas (Foto: Tetsu Joko/AFP)

Murray het die Wimbledon-titels in 2013 en 2016 gewen, maar dit was die eerste keer dat Tsitsipas op die hoofbaan speel.

Liam Broady, wat 142ste op die ranglys is, het Donderdag ondersteuners verheug en skoonskip gemaak in die tweede rondte van die toernooi toe hy die vierde gekeurde Casper Ruud met vyf stelle gewen het.

Die verdedigende vrouekampioen, Elena Rybakina, het ʼn oorwinning van 6-2, 7-6 (7/2) teen die Franse veteraan Alize Cornet behaal.

Die Kazakse derde gekeurde Rybakina het die eerste stel teen Cornet sonder te veel moeite gewen, maar was gedwing om hard te veg in die tweede.

Weens die reën vroeër die week was daar Donderdag nog ʼn klomp eersteronde wedstryde, insluitend Alexander Zverev se oorwinning van 6-4, 7-6 (7/4), 7-6 (7/5) oor die Nederlandse kwalifiseerder Gijs Brouwer.

Die mans se verdedigende kampioen, Novak Djokovic, het Woensdag sy tweederonde wedstryd gespeel, en die topgekeurde Carlos Alcaraz moet tot Vrydag wag.

Elena Rybakina (Foto: Tetsu Joko/AFP)

Djokovic, wat ʼn agste manstitel nastreef, sal volgende teen Switserland se Stan Wawrinka te staan kom, wat die Argentynse 29ste gekeurde Tomas Martin Etcheverry met 6-3, 4-6, 6-4, 6-2 geklop het.

Wawrinka (38) het drie Grand Slams gewen, maar hy het die afgelope paar jaar ʼn reeks beserings opgedoen en het tot 88ste op die ranglys teruggesak.

Hy het net ses van 26 wedstryde teen Serwië se Djokovic gewen, maar het hom in twee Grand Slam-eindstryde geklop.

Die sewende gekeurde Andrey Rublev het sy Russiese landgenoot Aslan Karatsev in vier stelle geklop, terwyl 2021-finalis Matteo Berrettini ook gevorder het.

Die Amerikaanse tiende gekeurde Frances Tiafoe het die Switserse kwalifiseerder Dominic Stricker verbygesteek en sal volgende teen die 21ste gekeurde Grigor Dimitrov speel.

Tommy Paul van die VSA het met 6-4, 7-6, 6-7 en 6-4 met Milos Raonic afgereken.

Daar was ook oorwinnings vir die Oekraïense speler Elina Svitolina en die tweemalige Australiese Ope-kampioen Victoria Azarenka.

Die Amerikaanse kwalifiseerder Sofia Kenin het haar skokoorwinning teen haar landgenoot Coco Gauff opgevolg deur China se Wang Xinyu in skoonstelle te verslaan terwyl die Franse vyfde gekeurde Caroline Garcia ook gevorder het.

Die Poolse 17de gekeurde Hubert Hurkacz, wat Roger Federer in 2021 in die kwarteindronde geklop het, het die Brit Jan Choinski met 6-4, 6-4, 7-6 (7/3) oortref.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.