Comrades sê jammer ná afsnytyd-konsternasie

Die Comrades-marathon is een van Suid-Afrika se sporthoogtepunte. (Foto: Twitter/Argieffoto)

Organiseerders van die Comrades-marathon het beloof dat daar hard agter die skerms gewerk sal word om meer regverdige tye by die onderskeie afsnypunte te bepaal.

Dit volg nadat talle atlete hul misnoeë uitgespreek het dat hulle te vroeg by vanjaar se afwedloop tussen Pietermaritzburg en Durban afgesny is. Hulle voer aan dat hulle dus ʼn regverdige kans ontneem is om die ikoniese ultramarathon te voltooi.

Een van die hoogtepunte op die Suid-Afrikaanse sportkalender is die talle atlete wat jaarliks – net vóór die amptelike Comrades-afsnyskoot knal – nog uit pure vasberadenheid en wilskrag voortbeur in ʼn desperate poging om die wedloop klaar te maak.

Vanjaar was daar egter net ʼn handjievol bittereinders by die Kingsmead-krieketstadion te siene.

“Die Comrades-vereniging (CMA) wil kategories en onvoorwaardelik om verskoning vra aan die drawwers wat deur die afsnytye by Pinetown [68,86 km] en Sherwood [81,31 km] beïnvloed is,” is daar in ʼn verklaring gesê.

Om te verseker dat ʼn soortgelyke blaps nie weer ʼn negatiewe invloed op deelnemers se wedloopervaring het nie, sal die CMA “relevante professionele persone” betrek om sy tegniese span by te staan met die bepaling van ʼn regverdige tyd by elke afsnypunt, gebaseer op die amptelike afstand van die wedloop.

Verkeerde afsnypunttye op die amptelike Comrades-app wat nog nie ná die vorige jaar se aksie bygewerk is nie, het ook tot die konsternasie bygedra.

Die CMA het aangedui dat hy sal uitreik na die drawwers wat deur die blaps beïnvloed is.

Ondanks die afsnytyd-kwessie het 92,68% van die 16 072 deelnemers wat by die beginpunt in Pietermaritzburg aangetree het die wedloop suksesvol voltooi.

Dit is die sewende hoogste klaarmaaksyfer nóg in die 102 jaar dat die Comrades aangebied word.

Volgens Mqondisi Ngcobo, CMA-voorsitter, word daar beslis na die atlete se klagtes en kwellings geluister.

“Die CMA neem kennis van die kwessies en daar word saam met die betrokke subkomitees gewerk om dit aan te pak.”

Daar is ook onder meer kommer oor atlete se veiligheid, T-hempgroottes, medaljes en rommel uitgespreek.

“Die hoofdoel van die CMA is om ʼn genotvolle en veilige ultramarathon vir elke deelnemer te verseker. Dit is terselfdertyd belangrik om die marathon se reputasie as die ‘Ultimate Human Race’ gestand te doen,” het Ngcobo afgesluit.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kobus ·

Sal nogal wil weet wat die uitreik aksie gaan wees. Dit kos baie geld om aan die Comrades deel te neem. Voorbereiding, klere, reiskoste, mediese uitgawes en inskrywingsfooie. Maar die teleurstelling om nie klaar te maak nie kan nie in geldwaarde bereken word nie. Ek moes ook tydens een wedloop onttrek en glo my, dit grens aan vernedering. Hoe kan tegnologiese foute soos die aan die orde van die dag wees?

blia ·

n BLAPS!!!????? Om sout i.p.v. suiker by jou koffie te gooi is n blaps. Wat die Comrades gedoen het aan daardie mense kan verseker nie as ‘n “blaps” bestempel word nie!
Eers het hulle die gebeure met hand en mond verdedig en probeer regverdig. Nou dat hulle massas kritiek kry, nou verander hul hul deuntjie en vra omverskoning….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.