Ja vir Olimpiese vlam, maar nee vir vurige ondersteuning

Foto: Philip Fong/AFP. )

Die Olimpiese vlam begin op 25 Maart sy kronkelpad van die een Japanse stad na die ander. Maar hoewel toeskouers toegelaat sal word om die vordering dop te hou, het die wêreldwye Covid-19-pandemie ook ’n invloed op dié belangrike sporttradisie.

Waar die brandende fakkel se vordering normaalweg vurig ondersteun word, sal daar vanjaar ’n somberder atmosfeer heers.

Die dra van maskers is verpligtend en toeskouers mag net die aksie naby hul wonings volg. En dit gaan ’n stil optog wees.

Luidens regulasies mag ondersteuners hande klap, maar ’n vrolike gejuig is streng verbode. Daarbenewens moet sosiale distansiëring ook gehandhaaf word.

Volgens die organiseringskomitee se Teruhiko Okada is dit belangrik om die moontlikheid van te veel toeskouers te vermy. Inwoners word egter steeds aangemoedig om deel van die verrigtinge te wees.

Organiseerders het egter die vergunning gemaak dat dit nie nodig vir fakkeldraers sal wees om maskers te dra nie – welkome nuus in Japan se somermaande.

Voordat verlede jaar se Spele gekanselleer is, sou 300 internasionale atlete ook deel van die optog gewees het, maar dit sal nou vir hulle baie moeilik wees om deel van die aksie te word.

Japan se grense is gesluit en sommige plaaslike regeringsamptenare het selfs gesê dat hulle die verrigtinge in hul jurisdiksie sal kanselleer indien die Covid-19-situasie sou vererger.

Die onsekerheid wat die pandemie teweegbring beteken dat beplanning en bepalings maklik by ’n leë stadion se losievenster kan uitwaai.

LJ van Zyl glo egter dat daar ’n sterk moontlikheid is dat die Spele wel sal voortgaan.

Die 35-jarige voormalige hekkiesatleet het onder meer goud by die Statebondspele gesmaak, terwyl hy ook die o. 20-wêreldkampioen was. Boonop is sy spogtyd van 47,66 sekondes steeds die Suid-Afrikaanse rekord in die 400 m-hekkies.

Daarbenewens is hy ook besig met ’n graad in Olimpiese Studies in Duitsland, terwyl hy verlede jaar saamgestem het met die besluit om die Spele uit te stel.

“Ek dink dit sal wel vanjaar voortgaan. Die finansiële implikasies is te groot indien dit gekanselleer sou word. Maar daar sal baie streng maatreëls toegepas word,” het Van Zyl aan Maroela Media gesê.

Volgens Van Zyl sal die gewone maatreëls – soos toetse en streng kwarantynregulasies – in die Olimpiese dorp toegepas word.

“Ek dink ook daar kan baie minder atlete as normaalweg wees. ’n Land sal byvoorbeeld net ’n paar atlete stuur om die getalle te beperk. Hulle sal dan heeltemal afgesonder in die Olimpiese dorp bly.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.