Kyk: Blitsige Letsile laat wáái op Pilditch

Botswana se Letsile Tebogo. (Foto: Jewel Samad/AFP)

ʼn 20-jarige atleet van Botswana het Wayde van Niekerk se wêreldbestetyd in die 300 m op Pilditch in Pretoria verbeter.

ʼn Vuurwarm Letsile Tebogo het die horlosie op 30.69 sekondes by die Simbine Curro Classic Shoot-out gestop.

Die wêreld se toptyd oor dié afstand het vantevore agter die naam van Suid-Afrika se Wayde van Niekerk gestaan toe hy die oë met ʼn lopie van 30.81 laat rek het.

Van Niekerk het sy tyd in 2017 in die Tsjeggiese Republiek opgestel.

Tebogo het Saterdag vroeg die spoedkrane oopgedraai en hy was sommer ná die eerste draai reeds die algehele voorloper.

Hy het voet in die hoek gehou en sy naaste teenstander – Gardeo Isaacs – met meer as ʼn sekonde geklop.

Die Botswana-naelloper is ongetwyfeld ʼn atletiekkrag waarmee daar rekening gehou moet word.

Hy het eers die 100 m-rekord vir o.20-atlete na 9.94 in Oregon verbeter, waarna hy ʼn kort rukkie later in Colombië dit na 9.91 verbeter het.

Wat Tebogo se prestasie selfs meer merkwaardig maak, is die feit dat hy pas weer sy atletiekterugkeer ná ʼn dyspierbesering gemaak het.

Simbine trek ook sy stralerskoene nader

Dan het Suid-Afrika se Akani Simbine ook gewys dat hy gereed vir aksie is toe hy die nasionale rekord in die 150 m-item verbeter het.

Simbine het sy lopie in ʼn tyd van 15.04 sekondes kafgedraf om Anaso Jobodwana se vorige rekord van 15.08 te verbeter.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.