Kyk: Joshua se vlieënde voete

Uganda se Joshua Cheptegei het die 5 km-wêreldrekord op ’n drafstap verbeter. Foto: Twitter.

Uganda se Joshua Cheptegei het tans die hardloopwêreld aan sy voete. Die 23-jarige langasem het die afgelope naweek in Monaco die wêreldrekord vir ’n 5 km-wedloop verpletter toe hy dié afstand in ’n verstommende tyd van 12:51 minute afgeblits het.

Sodoende het hy die vorige wêreldrekord – wat deur Kenia se Ronex Kipruto opgestel is – met 27 sekondes verbeter.

Snaaks genoeg het hy ’n voorgevoel gehad dat Monaco vir hom iets spesiaal sou inhou.

“Ek is opgewonde om te sien hoe vinnig ek môre kan hardloop. Dit sal my eerste wedloop van ’n baie belangrike Olimpiese jaar wees,” het hy getwiet.

Die stophorlosie het Cheptegei se eerste kilometer teen ’n pas van 2:31 minute gemeet en soos wat die wedloop gevorder het, het hy hoegenaamd nie sy pas verslap nie.

“Sjoe, dit is rêrig wonderlik. Ek wou graag ’n onder-13-minute gehardloop het en my bene het sterk gedurende die wedloop gevoel; daarom het ek besluit om die rekord te jaag. Om dit egter met so baie sekondes te verbeter, laat my breed glimlag,” het Cheptegei aan die media gesê.

Hy het verlede jaar ook die 10 km-wêreldrekord verbeter met sy spogtyd van 26:38 minute in Spanje. Sy twee 5 km-tye was toe onderskeidelik op 13:23 minute en 13:15 minute gemeet.

Tog is daar diegene wat taamlik skepties oor sy jongste wêreldrekord is. En dit is nie omdat hy enige verbode middels ingeneem het nie, maar eerder oor sy hardlooptekkies.

Cheptegei het in Monaco met sy nuwe (en omstrede) Nike Vaporfly-tekkies gehardloop.

Kritici – soos Australië se voormalige marathon-wêreldrekordhouer Robert de Castella – voel dat tegnologie drawwers ’n onregverdige voorsprong gee.

Dié paar tekkies is op só ’n wyse ontwerp om glo ’n ekstra huppel in jou stap te sit. Volgens die vervaardigers kan dit ’n drawwer se effektiwiteit met tot 4% verbeter.

Eliud Kipchoge het byoorbeeld ’n prototipe van dié skoene gedra toe hy verlede jaar die eerste persoon geword het om ’n marathon in onder twee ure te voltooi.

“Dit is soos om met ’n veer in jou skoen te hardloop. Dit is belaglik,” het De Castella gesê.

Maar jou deursneedrawwer sou waarskynlik sukkel om die Parkrun in ’n tyd van 25 minute te voltooi. Ruimtepak-tekkies en al.

  • So van die Parkrun gepraat. Die plaaslike Parkrun-rekord word deur Amos Nyongo gehou. Hy het sy tyd van 14:02 minute in Junie 2018 opgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Johan Venter ·

Al weer die Nika Vaporfly-tekkies, ek wonder hoe dik hierdie tekkies waarmee hy gehardloop het se sole was. Hulle sê mos as mens met die nuwes aan hardloop voel dit of jy op ‘n trampolien hardloop.

Johan Venter ·

Dit sal nou interessant wees as iemand oor ‘n tyd kan navorsing doen van uitsoek atlete se presasie met ‘normale’ hardloopskoene aan, maar wat met opkikkers in die sisteem gehardloop het, teenoor dieselfde atlete se resultate wat met hierdie Nike Vaporfly-tekkies aan gehardloop het en sonder opkikkers.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.