Kyk: Tebogo wen 200 m-stryd teen Simbine

’n Argieffoto van Suid-Afrika se Akani Simbine. (Foto: Stefano Rellandini/AFP)

Akani Simbine is deesdae nie ʼn te gereelde gesig in ʼn 200 m-naelloopsessie nie, maar die Suid-Afrikaanse blits beskik nogtans oor stralerskoene.

Die nasionale 100 m-rekordhouer het Woensdagaand tweede in die 200 m-item in Atletiek Suid-Afrika se Grand Prix-byeenkoms geëindig met sy tyd van 20.32 sekondes.

Die vlieënde Letsile Tebogo van Botswana het goud gesmaak met sy lopie van 19.94 sekondes.

Die 20-jarige Tebogo het in Februarie Wayde van Niekerk se wêreldbestetyd in die 300 m na 30.69 sekondes by Simbine se Curro Classic Shootout-byeenkoms op die Pilditch-stadion verbeter.

Hy het nou in Johannesburg weer eens die spoedkrane in die pylvak oopgedraai om hakskene vir Simbine te wys.

Eckhart Potgieter – een van Affies se aflosrekordbrekers – was derde in die Goudstad met ʼn tyd van 20.61 sekondes.

Maar terug na Simbine.

Ondanks sy tweede plek is die 30-jarige atleet steeds tevrede met sy vertoning. Dit was skaars sy derde 200 m-lopie van die afgelope paar aar nadat hy die afgelope ruk uitsluitlik op die 100 m fokus.

“Ek is tevrede. Dit was eintlik ʼn baie konserwatiewe lopie en ek het nie enige verwagtinge gehad nie; ek het immers lanklaas by die wegspring van ʼn 200 m aangetree. Ek het dit as ʼn oefenlopie benader om te sien hoe dinge tans staan. Ek is voel gesond en ek is gereed vir die res van die seisoen,” het hy aan The Citizen gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.