SA hamergooi-koning praat oor roemryke loopbaan

Chris Harmse net vóór sy eerste gooi van 80 m. Foto: Verskaf.

Chris Harmse was nog altyd ’n sportster. Hy het sommer vroeg in sy hoërskoolloopbaan al vir HTS Sasolburg se eerstespan krieket gespeel, terwyl hy ook ’n kranige diskus-atleet was. Goeiste, hy kon selfs hoër as ses voet oor die hoogspringlat seil.

Maar daar was altyd ’n hunkering om ’n Suid-Afrikaanse kampioen te word.

Terwyl hy vir ’n mondelingsessie in die Engelse klas voorberei het, het hy ’n verdwaalde Time Magazine van 1984 nadergetrek. ’n Artikel oor die Russiese atlete van die destydse Sowjetunie wat die Olimpiese Spele in daardie jaar misgeloop het, het sy aandag getrek. En veral ’n uittreksel oor die hamergooi-kampioen Yuriy Sedykh.

“Ek was min of meer net so lank soos die wêreldrekordhouer, maar net baie maerder,” het Harmse laggend die afgelope Vrydag aan Maroela Media gesê.

Tog is die hamergooi-saadjie geplant en op universiteit het hy sy eerste proesel van hamergooi gekry met ’n gooi van 24,24 m; sommer in so ’n klein kompetisie met ’n vriend op kampus.

By sy eerste Suid-Afrikaanse Kampioenskap in Secunda was hy vierde, maar in 1996 het iets besonders by die einste kampioenskap in Kaapstad gebeur.

“Ek het altyd gedink dit sal lekker wees om die SA kampioen te word. Ek onthou my eerste twee gooie het daardie jaar nie getel nie en ek was ongelooflik op my senuwees met my laaste probeerslag.”

Tog het hy – net voor sy laaste gooi – ’n teken gesien en skielik het hy rustig geword en besef dat die Here hom nooit alleen sal laat nie.

Hy het die kampioenskap kort daarna met ’n bobaasgooi beklink. Dit was die begin van ’n ongelooflike 23 agtereenvolgende nasionale hamergooi-titels – ’n wêreldrekord.

“Ek sou nie sê dat ek nie weer met senuwees gesukkel het nie, maar van daar die dag af kon ek dit baie beter hanteer,” het die diepgelowige Harmse gesê.

Harmse was daarna onstuitbaar in die hamergooi-sirkel en Statebond-, sowel as Afrika-kampioenskaptitels het gevolg.

Saam met sy pa ná een van sy spogvertonings. Foto: Verskaf.

“My pa (Johan) skerts altyd dat almal ’n reusebohaai oor my nasionale titels opskop, maar niemand praat ooit oor hom wat met elke gooi daar was nie.”

Maar hy het ook die koerantopskrifte weens sy Christelike oortuigings gehaal: Hy het geweier om op Sondae deel te neem.

“Ek dink daar was aanvanklik nooit werklik enige Olimpiese verwagtinge by my nie. Ek het egter die SA en Afrika-kampioen geword en skielik het mense oor die Olimpiese Spele begin praat.”

Net voor die 2000 Olimpiese Spele in Sydney het Harmse van sy beste vertonings nóg gelewer; op die dag waarop die Olimpiese kwalifiserings afgeskop het, het hy die nasionale rekord met ’n gooi van meer as 79 m verbeter.

Pole se Szymon Ziolkowski met ʼn gooi van 80,02 het daardie jaar goud by die Spele gewen.

“Die feit dat ek nie op Sondae deelgeneem het nie, is iets wat ek uit dankbaarheid jeens die Here gedoen het. Dit was baie persoonlik vir my en ek wou nooit gehad het dat dit die koerantopskrifte moes haal nie.”

“Ek het ’n persoonlike verhouding met die Here en dit is al wat vir my saak maak. My geloof is die belangrikste aspek van my lewe.”

Tussen 2000 en 2005 was Harmse ’n krag in die internasionale arena.

Harmse in aksie. Foto: Verskaf/Roger Sedres.

Hy het Olimpiese en wêreldkampioene oordonder en kort voor lank het sy eerste gooi van verder as 80 m gevolg – op Pilditch in Pretoria, sy gunsteling-stadion.

“Die feit dat ek met die seën van die Here en met harde werk verder as 80 m kon gooi, was ongelooflik spesiaal vir my.”

Sy gunsteling-herinnering is die 2010 Statebondspele in Delhi. Harmse moes in 1998 en 2006 met die brons medaljes tevrede wees, terwyl hy in 2002 die Spele weens geloofsredes misgeloop het.

Hy het met ligamentprobleme gesukkel, maar met sy laaste gooi van 73,15 m het hy goud vir Suid-Afrika gewen.

“Ek onthou hoe kreupel ek was; die dokters het byvoorbeeld nie geglo dat ek van die veld kon stap nie.”

Deesdae het die 46-jarige sy eie sakeonderneming, terwyl hy ook ’n paar atlete afrig.

“Ek het die meeste van my SA Kampioenskapmedaljes weggegee. Ek het dit aan mense geskenk wat ek respekteer en vir wie ek agting het.”

Chris Harmse se vertonings maak nie net van hom ’n legende in die hamergooi-sirkel nie, maar ook in geloofskringe regoor die wêreld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

4 Kommentare

jongste oudste gewildste
Kokkie

Wonderlik, ou Grote. Ek salueer jou en het groot respek vir jou oortuigings en die getuienis wat jy uitleef. Dan het het ek natuurlik ook groot bewondering vir jou prestasies op die atletiekbaan. Oor baie jare heen het jy hamergooi in Suid-Afrika jou persoonlike eiendom gemaak. Dit was ‘n vreugde en voorreg om jou in aksie te sien en getuie te wees van hoe jy die hamer kon lanseer. Een van jou mooiste eienskappe is jou nederigheid en respek vir jou medemens. In my oë en in SA-atletiekgeskiedenis sal jy altyd onthou word as die nederige legende van SA-atletiek, soos… Lees meer »

Boerkind

Wonderlike getuienis en voorbeeld Chris! Die Here seën jou!

Alexander

Ongelooflik trots op Chris Harmse, wat ‘n inspirasie vir enige atleet. Voorwaar ‘n briljante sportman met beginsels wat nie skroom om sy Christelike waardes as prioriteit te beskou nie. As atleet vind ek dat meeste atlete die sabbatdag as net nog ‘n dag beskou om aan sport deel te neem, van aanbidding en danksegging aan God is daar nie veel sprake nie.

'n Simpelman

Dankie vir al die herinneringe.